Reën het die afgelope paar weke oor dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap voorgekom, wat welkome verligting vir talle boere gebring het. Die reën het wel nog nie die knellende droogte gebreek nie.

Van den Berg sê die situasie in dié dele bly kritiek, hoewel reën nog kan voorkom. “Met kouefronte wat steeds gereeld die suidelike dele van dié provinsies tref, is dit steeds moontlik dat reën in dié dele selfs in die eerste deel van Desember nog kan voorkom.”

Luidens sy nuutste weerverslag ontwikkel ’n La Niña-stelsel tans en sal dit hopelik die toestande vir somerreën verbeter. Hy voeg by dat toestande vir later in die somer steeds gunstig vir die somerreëngebied lyk.

Verswakte produksietoestande en weiding

Buiten die swakker as verwagte reënval, baie lae temperature en ryp en koue skade wat op sommige someraanplantings in die oostelike produksiegebiede voorgekom het, sê Van den Berg ten minste 30 mm tot 50 mm reën word in die sentrale en westelike produksie gebiede benodig voordat aanplantings daar kan begin. “Sandstorms en baie winderige toestande skep ongunstige toestande om ’n goeie plantestand te kan vestig.”

Verder verswak die gehalte van natuurlike weiding vinnig, terwyl die voorraad daarvan ook vinnig afneem. Volgens Van den Berg daal die watervlak van baie damme in die winter- en somerreëngebiede as gevolg van verhoogde aanvraag en die warm en winderige toestande.

“Daar is egter tans nie rede tot bekommernis vir die somer oor die groter damme, soos die Gariep-, Vanderkloof-, Bloemhof- en Vaaldam, in die somerreëngebied nie, maar kleiner damme begin uiters lae vlakke bereik,” sê Van den Berg. “Die situasie in die Wes-Kaap bly kritiek, hoewel daar ’n bietjie laat reën voorgekom het.”

Dieselfde vooruitskouing as vir 2016-’17

Van den Berg sê die kouefronte wat nog betreklik ver noord oor die land beweeg, is ’n aanduiding dat die somerreënvalstelsels nog afwesig is. “Daar is egter ‘n opbou van tropiese vog oor Angola en die Demokratiese Republiek van die Kongo wat reën kan veroorsaak oor Suider-Afrika wanneer die Atlantiese hoogdrukstel gaan verswak.

“La Niña is gewoonlik verantwoordelik vir ’n laat begin van die reëntyd, maar goeie reën in die mid- tot laatsomer. Die huidige vooruitskouing lyk nou baie dieselfde as vir 2016-’17.”

Volgens Van den Berg kan die La Niña-toestande wat ontwikkel, tot goeie reën later in die somer lei.