Hoewel dié reën te laat sal wees om somergraan-kontantgewasse aan te plant, sal dit boere wel in staat stel om voergewasse vir weiding aan te plant. “Die sterk daling in vleispryse saam met die droogte stuur op ’n ramp vir baie veeboere af, maar as reën gedurende hierdie tydperk voorkom, kan dit baie help om die agteruitgang van weidings te keer,” sê Van den Berg.

Om voldoende weiding vir die winter en lente te kan produseer, is egter nog baie reën en opvolgreën oor groot dele van die land nodig.

Hittegolftoestande

Volgens Van den Berg het die hittegolftoestande die afgelope weke oor dele van die land die uitwerking van die reën wat sedert verlede maand voorgekom het, laat verswak, veral in die sentrale en westelike dele van die land.

“Hoewel die jong mielies wonderbaarlik oorleef in lugtemperature van tot bokant 40 °C, en grondtemperature waarskynlik net onder 60 °C, sal skade aan jong plante begin voorkom. Sterk wind saam met die hoë temperature vererger die situasie,” sê Van den Berg.

Aanplantings van sonneblom word waarskynlik meer deur die hitte beïnvloed as mielies. “Die sonneblom is in die meeste gevalle later as mielies aangeplant. Gevolglik was die grondwater in die saadbedding reeds uitgeput, terwyl die grond- en lugtemperature so hoog was dat ontkieming nie kon plaasvind nie.”

Van den Berg sê dit het meegebring dat die verwagte aanplantings van sonneblom ook nie gerealiseer het nie. Die reën wat van volgende week af verwag word, sal te laat wees om sonneblom aan te plant. “Die laaste aanvaarbare plantdatum vir sonneblom in die westelike produksiegebiede is in die tweede laaste week van Januarie, met die sonneblomplante wat reeds moet op wees voor die laaste week van Januarie.”

Weermodelle dui tans aan dat kans op reën in die tweede helfte van Februarie ondergemiddeld is.

El Niño en ekstreme weergebeurtenisse

Die onsekerheid oor die uitwerking van die voorspelde El Niño-stelsel duur voort. Die Australiese Buro vir Meteorologie sê in sy nuutste verklaring dat die onmiddellike risiko vir El Niño afgeneem het. Drie van die agt weermodelle wat vir die Enso- (El Niño Suidelike Ossillasie) indeks gebruik word, dui tans aan dat die El Niño-stelsel teen die middel van die jaar sy hoogtepunt kan bereik.

Die buro voorspel ’n 50%-kans dat die El Niño-stelsel gedurende die herfs en winter oor die Suidelike Halfrond kan ontwikkel.

Volgens Van den Berg kan die swaar reën oor gedeeltes van Argentinië, Uruquay en Paraquay die afgelope paar maande die gevolg wees van die El Niño-stelsel, hoewel duidelike koppeling van die stelsel met weerstoestande nie plaasgevind het nie.

Die oppervlaktemperatuur in die belangrike Nino-3.4-gebied het die afgelope paar weke gedaal. Vroeër was dié temperature sowat 1,2 °C warmer as normaal, en nou het dit gedaal tot sowat 0,4 °C warmer as normaal. Van den Berg sê hoewel hierdie afkoeling slegs tydelik kan wees, dui dit reeds neutrale Niño-toestande aan. “Hierdie daling kan voldoende wees om klimaatstelsels te laat reageer. As dit voortduur, kan dit die kanse op weergebeure soos oorstromings oor die suidelike dele van Afrika verhoog.

“Dit kan soortgelyk wees as in 1987-’88-seisoen, waar die El Niño-stelsel se uitwerking vanaf droogte tot oorstromings in die suidelike dele van Afrika oorgegaan het,” sê Van den Berg. “Enige ekstreme gebeurtenisse, soos oorstromings, is dus ook nie uitgesluit vir die suidelike dele van Afrika in die komende maande nie, veral gegewe die hittegolftoestande wat tans ervaar word wat die energiebalans kan beïnvloed.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.