Mnr. Jacque Kruger, uitvoerende hoof van die Letaba-watergebruikersvereniging, sê besproeiingsboere het reeds van April af hul verbruik verminder tot 30% van hul normale kwota. Dit is gedoen om die beskikbare water te bestuur dat daar darem genoeg sou wees tot Oktober.

Genadiglik het die eerste reën in Limpopo se Laeveld vroeg in September begin val en sedertdien was daar al geleentheid vir boere om ekstra water te onttrek terwyl water by die damme ingevloei het. Boere het vir sowat ses dae die geleentheid gehad om hul reserwes aan te vul.

Die Tzaneendam se vlak staan tans op 10,5% en die Ebenezerdam op 14,5%. Boere wat op dié stelsel staatmaak, produseer meestal hoëwaardegewasse soos subtropiese uitvoervrugte en kontantgewasse vir die plaaslike mark.

Intussen blyk dit ook dat die departement van waterwese en sanitasie ver gevorder is in die proses om werk aan die wal van die Tzaneendam te hervat. Die damwal moet verhoog word om die dam se kapasiteit te vergroot, maar die projek staan al meer as drie jaar stil.

Die Tzaneendam se totale kapasiteit is 156,6 miljoen kubieke meter. Die wal is meer as ’n jaar gelede afgebreek tot op ’n vlak waar die dam net 60% van sy kapasiteit kan opgaar. Dit is gedoen sodat ’n hoër wal met sluise gebou kan word wat die dam se kapasiteit met 25% sal vergroot.