Somergewasse is 60 dae en 90 dae ná aanplanting in ’n belangrike groeistadium. Derhalwe gaan opvolgreën op dié tye veral belangrik wees, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou. “Reënval in Maart kan dus die jaar se seisoen maak of breek.”

Kolle en strepe

In die land se westelike mielieproduserende distrikte, soos Lichtenburg, Schweizer-Reneke, Bothaville, Wesselsbron, Hoopstad en Viljoenskroon, is die afgelope paar dae reënval van sowat 30 mm tot 100 mm aangeteken.

Van den Berg sê dit is onseker hoeveel hektare boere kon beplant. “Die reënval volg ’n normale droogtepatroon, met reën wat in kolle en strepe voorkom en van plaas tot plaas verskil.”

Een voorbeeld daarvan het in die distrik Hertzogville in die Wes-Vrystaat voorgekom waar boere se metings vir een donderstorm van 2 mm tot 100 mm gewissel het. “Dit kom voor of die reën in ’n sirkel van sowat 50 km voorgekom het,” sê mnr. Gys Olivier, ’n boer van die distrik.

Mnr. Pierre van Eeden van die distrik Edenville in die Sentraal-Vrystaat handel sy laaste aanplantings van sonneblom af nadat hy die afgelope twee weke sowat 40 mm reën gehad het. “Ons hou moed.”

Van den Berg sê daar is egter distrikte soos Kroonstad in die Sentraal-Vrystaat waar nog min reën voorgekom het. “Lae reënval is ook ’n groot bron van kommer vir veeboere en besproeiingsboere wat van boorgatwater of ander waterbronne afhanklik is.”

Een van die moeilikste seisoene

Volgens Van den Berg is die huidige seisoen een van die moeilikstes nóg wat voorspellings betref. In die algemeen het weermodelle aangedui dat die uitwerking van die verwagte El Niño-stelsel van die begin van Januarie af sou begin voorkom, maar die permanente koppeling van weerstoestande wat met El Niño geassosieer word, het nog nie plaasgevind nie.

“Vir see-oppervlaktemperature, soos wanneer El Niño plaasvind, moet die oppervlaktoestande met die oorhoofse weerstelsels koppel,” sê Van den Berg. “Die Enso (El Niño Suidelike Ossillasie)-indeks begin wel meer negatief draai, wat ’n aanduiding van die ontwikkeling van die verwagte El Niño-stelsel kan wees.”

Die Australiese buro van me­teorologie (BOM) het vroeër vandag aangedui die El Niño-Suidelike Osillasie (Enso) steeds die ontwikkeling van 'n El Niño-stelsel aandui. Die Stille Oseaan se oppervlaktemperature het egter na ENSO-neutrale temperature teruggekeer na dié temperature in November en Desember verlede jaar hoër was wat die ontwikkeling van 'n El Niño-stelsel ondersteun het. 

Weermodelle dui aan dat reën in die tweede deel van Januarie oor dele van die somerreënvalstreek kan voorkom. Die kans op reën in Februarie en Maart is egter minder belowend. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.