Só het mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA, op die organisasie se jaarkongres gesê toe hy terugvoer gegee het oor die afdeling natuurlike hulpbronne se werk die afgelope 12 maande.

Hy het die hofuitspraak vroeër vanjaar, toe ’n volbank regters onder meer beslis het dat waterregte wel oorgedra kan word, maar sonder vergoeding, as een van die laagtepunte rakende waterkwessies bestempel.

Agri SA ondersteun die appèl hierteen finansieel.

Die organisasie meen die regering se sterk politieke beleidsposisie teen die oordrag van waterregte is verkeerd, onder meer omdat dit die vermoë wegneem om water wat ’n boer in ’n bepaalde seisoen nie kan gebruik nie, deur ’n oordrag wel doeltreffend te kan benut.

“Die regering het onlangs die stelling gemaak dat hy water besit en dat hy, as hy transformasie wil bereik, water as ’n middel kan gebruik om dit te versnel. Waar die Waterwet sê water behoort aan al die mense van Suid-Afrika, beteken dit nie die regering besit water nie. Dit is iets waaroor ’n mens baie versigtig moet wees.”

Ondanks dié groot verskil tussen hoe Agri SA en die regering die kwessie sien, wil die organisasie ’n goeie verhouding met die regering hê.

GEREELDE VERGADERINGS

Een van die voordele van dié benadering is dat die landbou nou kwartaalliks met senior amptenare van die departement van water en sanitasie vergader om waterkwessies te bespreek. Probleme met waterrekenings kry onder meer dan aandag.

Die forum bied ’n geleentheid om die landbou se vertrekpunte rakende voedselsekerheid en volhoubare boerdery oor te dra, wat belangrike agtergrond is wanneer jaarliks oor tariewe vir onbehandelde water onderhandel word.

Die jongste aangekondigde verhoging in dié tariewe is verrassend laag. Hoewel dit Covid-19-verwant is, is dit ’n belangrike ontwikkeling, want die regering het die landbou se sienings in ag geneem, het Rabie gesê.

Agri SA is in gesprek met ander landbou-organisasies sodat hulle met een stem oor gemeenskaplike waterverwante bekommernisse met die regering te kan praat.

DRUKGROEP

Agri SA is verder een van die belanghebbendes in die drukgroep Gariep Watch wat hom beywer om oplossings vir besoedeling in die Benede-Oranjerivier aan te pak.

Dié organisasie sonder winsbejag doen gereeld betroubare, verifieerbare, geakkrediteerde laboratoriumtoetse van die water in die Benede-Oranjerivier en nou ook die Benede-Vaalrivier waar dit in die Oranjerivier vloei.

Die inligting word gebruik om, met die samewerking van die drie vlakke van regering, oplossings vir besoedelingsprobleme te vind.