Dit was een van die konsensusmenings op ’n inligtingsessie van die landbousakekamer Agbiz oor die eise en geleenthede wat die landbou in die gesig staar, asook wat die sektor op wetgewende en beleidsvlak te wagte kan wees. “Ek het geen twyfel nie dat die twee sektore wat Suid-Afrika in die Covid-krisis staande gehou het, die landbou en kommoditeite is,” het mnr. Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool gesê.  Hy het gesê die manier waarop pres. Cyril Ramaphosa onlangs openlik sy kommer oor landelike veiligheid uitgespreek het, asook nuwe inisiatiewe om landelike veiligheid op te skerp, is ’n teken van die groter waardering vir die landbou se rol.  

Dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van Agbiz, het die belangrikheid van landbou-uitvoer se positiewe handelsbalans van $4 tot $5 miljard beklemtoon. Volgens hom is die landbou en toerisme reeds voor die Covid-19-pandemie deur Busa (Besigheidseenheid Suid-Afrika) as die twee belangrikste sektore uitgesonder. “Met toerisme se terugslag weens Covid-19 staan die landbou nou by verre uit as die waardevolste sektor, vandaar die hernude belangstelling in die landbouwaardeketting en voedsel- en veselsektor.”

Hy het gesê Agbiz is by talle regeringforums en staatsdepartemente betrokke om raad te gee. Ook binne Busa en Nedlac speel Agbiz ’n leiersrol. “Ons moet by die dialoog betrokke bly. Dit help nie om vanuit die paviljoen te skree nie. As jy nie op die veld aan die spel deelneem nie, verloor jy.

“Ons moet aktief by inklusiewe ontwikkeling betrokke raak. Ons het dit vir té lank aan die regering en sy instelling oorgelaat en ons het nie die voordele gesien nie. Die private sektor moet ’n groter rol speel. Suid-Afrika het die vaardighede en mense om alles te maak werk.”

Mnr. Wandile Sihlobo, senior ekonoom by Agbiz, het gesê Suid-Afrika sal nie gou van die Covid-terugslag herstel nie. “Ons sal waarskynlik eers in 2024 weer op die welvaartsvlakke kan wees wat ons in Januarie vanjaar gehad het. Daar is verskeie krisisse, soos die energie- en skuldkrisisse wat nie gou opgelos sal word nie. Daar lê ’n moeilike pad voor.”

Sihlobo het gesê die landbou was gelukkig met sy tweede grootste graanoes en goeie tuinbou-oeste. Daar is optimiste wat reken die landbou sal vanjaar met 13% groei. Daar is ook goeie vooruitsigte vir volgende jaar, soos blyk uit die verwagte weersomstandighede en trekkerverkope.

Voorkeurkwessies

Volgens hom is voorkeurkwessies vir die landbou onder meer transformasie, herverdeling, groei en uitbreiding. Hy het gesê swart boere dra gemiddeld net 5% tot 10% tot landbouproduksie by. “As hierdie syfers nie verander nie, sal die polities-ekonomiese situasie binne die landbou ook nie verander nie. Hierdie syfers sal ook moet verhoog namate ons die landbou uitbrei,” het Sihlobo gesê.

Oor die groter betrokkenheid van swart boere het Purchase gesê die private sektor sal ’n groter rol moet speel. Een van die ondernemings waarop hy baie hoop vestig, is die Landbou-ontwikkelingsagentskap wat deur oud-min. Roelf Meyer op die been gebring is. Verskeie projekte is reeds aan die gang en die finansiering daarvoor lyk belowend. “Ons moet die koek groter kry en nie net die bestaande koek onderverdeel nie.”

Purchase het beklemtoon dat baie staatsinstellings faal en dat die private sektor ook al hoe meer by navorsing en dienste betrokke raak.

Venter het daarop gewys dat daar meer as 700 staatsondernemings (SOE’s) is waarvan die meerderheid nie winsgewend bedryf kan word nie. “Ekonomies kan ons nie so voortgaan nie en private ondernemings gaan ’n ál groter rol begin speel. Daar is nie ’n enkele suksesvolle landbouprojek van die staat in Noordwes nie. Daar was goeie planne, maar amptenare het oor die besteding van die geld besluit. Niemand kan só boer nie.”