“Dit word werklik ernstig betreur dat ons in Suid-Afrika in dié tye energie moet aanwend om uitgediende ideologieë te beveg, wat vir niemand in die land, buiten die paar kaders aan die spits van die ANC-alliansie, tot voordeel kan strek nie.”

Van die probleme wat hy uitgelig het, is die ANC se verbintenis tot die nasionaal demokratiese rewolusie, dat die ideologie bo die ekonomie verhewe is, dat dit vir die ANC belangriker is om die party te red as om die land by ekonomiese groei uit te bring en dat onteiening sonder vergoeding as ’n voorkeursaak uitgelig word.

Meintjes het gesê pres. Cyril Ramaphosa is as die ridder op ’n wit perd gesien wat die land uit die finansiële politieke moeras sal kry. “Die werklikheid wys dat hy dit nie kan doen of sal regkry nie. Hy is deel van die probleem, want hy is soos almal in die ANC vasgevang in hul ideologie en die interne verskille tussen faksies. Ek glo dat daar slegs ’n einde aan die verval kan wees as die ANC nie meer aan die politieke stuur in Suid-Afrika is nie.”

Twee fronte

Volgens Meintjes werk TLU SA op twee fronte: Eerstens om die ANC se beleid bloot te lê sodat die wêreld kan sien dat dit Suid-Afrika vernietig en ook dat kiesers sien dat die alliansie besig is om hul toekoms te steel. Tweedens word daar gewerk om ’n parallelle ekonomie te vestig waarbinne mense kan oorleef en floreer.Hy het verwys na die omskepping van TLU SA in ’n dinamiese organisasie met ’n klem op die sosiale media. In die proses het die organisasie se betalende ondersteunersbasis met bykans 2 000 lede gegroei.

Ván die nuwe planne sluit in ’n landbousektorbeleggingsmaatskappy waarbinne ’n verskeidenheid van projekte begin is om vir lede voordele te beding soos ’n voorsorgfonds en begrafnisreëlings. Hy het bekend gemaak dat daar binnekort aandele aan lede beskikbaar gestel sal word om kapitaal te verkry en vir lede mede-eienaarskap te gee. “Die toekomsideaal is om beleidsake te skei van die besigheidsbeen waar daar projekte begin word tot voordeel van lede. Uiteraard sal die brug tussen die twee stewig in stand gehou moet word.”

Korporatiewe bank

TLU SA is ook besig om ’n korporatiewe bank op die been te bring. Meintjes het gesê dit is nodig dat daar ten minste 200 aandeelhouers moet wees wat betrokke raak met beleggings van minstens R500. Dit hou die belofte in dat TLU SA hom in die toekoms beter kan posisioneer ten opsigte van finansiële ondersteuning aan lede.

Daar word ook ’n digitale TV-kanaal gevestig met die leuse: Doen dit in Afrikaans. Die ateljee word in TLU SA se hoofkantoor gebou. Verder is daar ook ’n finansiële welstandslessenaar gevestig om lede te help met raad oor aftrede, boedelbeplanning en testamente, asook ondersteuningsdienste vir regshulp.

Mnre. Louis Meintjes en Henry Geldenhuys is onbestrede herkies as voorsitter en ondervoorsitter van TLU SA.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.