Opvolgreën en rypvrye produksietoestande is noodsaaklik om die somergewasse wat laat aangeplant is, te bevoordeel, én die winsgewendheid van rooivleis-, pluimvee- en veselproduksie te ondersteun.

Die knellende droogte in die Oos- en Noord-Kaap val saam met die opskorting van Suid-Afrika se uitvoer van veselprodukte en volstruisvleis. Sekondêre landboubedrywe word ook deur droogtes beïnvloed. Die direkte bydrae van landbou tot Suid-Afrika se ekonomiese groei is dalk net 2,5% van die bruto binnelandse produk, maar die indirekte bydrae kan tót 14% wees.

OOS-KAAP

Indien die reënval van 239 mm van Julie tot Januarie in die huidige produksietyd met vorige seisoene vergelyk word, is hierdie die ergste droogteperiode sedert 1972. In daardie jaar het die provinsie in die ooreenstemmende tyd slegs 195 mm reën gehad. Die Noord-Kaap is die droogste provinsie met 30% van die gemiddelde reënval van Julie tot Januarie.

VRYSTAAT

Die huidige produksietyd, met reënval van 200 mm van Julie tot Januarie, is die droogste sedert 2015, toe 178 mm aangeteken is. Die vorige droogste seisoen was in 1994, met 196 mm.

NOORDWES

Noordwes het van Julie tot Januarie slegs 202 mm reën gehad. Die laagste aangetekende reënval was in 1972 met 181 mm, en in 2015 het slegs 192 mm geval.

Impak

Die onlangse herstel van speenkalfpryse was van korte duur. Hoër pryse is ondersteun deur belastingaankope en die hoop op gunstiger weertoestande in die westelike graanproduksie- en weidingstreke.

Die droogtetoestande weens onvoldoende opvolgreën het ’n prysstyging van mielies tot gevolg gehad. Indien die droë toestande voortduur, kan witmielies uit Mexiko ingevoer word en dit kan pryse nader aan invoerpariteit laat beweeg. Die verwagte hoër voerpryse, voerkraalmarges wat opnuut onder druk kan kom en ’n toename in die aanbod van speenkalwers plaas druk op speenkalfpryse.

Die aantal speenkalwers in voerkrale het in die week geëindig 1 Maart met sowat 30% toegeneem hoewel Suid-Afrika nog nie sy bek-en-klouseervrye status herwin het nie. Die uitkoms van die pluimveevereniging se tariefaansoek is nog onbekend. Die prys van dykwarte in Amerika het die afgelope jaar met 33% gedaal.

Hierteenoor is die rand 20% swakker, wat plaaslike pluimveeprodusente deels teen goedkoper invoer beskerm en graanprodusente teen goedkoop mielie- en sojaoliekoek en -olie-invoer. Dit is noodsaaklik dat die produksie van sojabone, sonne- blomsaad en kanola uitbrei sodat Suid-Afrika toenemend selfvoorsienend ten opsigte van oliekoek kan word.

GEVOLGTREKKING

Die landbou is tydens die staatsrede telkens uitgesonder vir die bydrae wat dit tot die land se ekonomie kan lewer. In die begroting is egter beswaarlik melding gemaak van landbou as ’n bedryf waarin belê moet word. Ander werklikhede plaas ’n demper op die fokus wat landbou en voedselsekerheid behoort te geniet.

Samewerking tussen die private en openbare landbousektore moet verbeter. As daar nie hieraan aandag gegee word nie, gaan Suid-Afrika se landbousektor van die geleenthede misloop wat ontwikkelings soos die vierde industriële revolusie bied.

’n Oplossing moet gevind word om produksie volhoubaar te maak te midde van droogtesiklusse. Die subsidiëring van multirisiko-versekeringspremies deur die regering behoort aandag te geniet. Ander lande doen dit reeds. Die regering moet daarvoor voorsiening maak in die 2020-begroting. Dit kan landbouproduksie meer volhoubaar maak en die landbou se indirekte bydrae van 14% tot die bruto binnelandse produk én voedselsekerheid verbeter, aangesien produsente en produksie doeltreffender ná ’n droogte sal kan herstel. 

Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.