As die Vrystaat tot ’n rampgebied verklaar word, gaan veral saaiboere die Regering se hulp nodig hê, sê mnr. Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou. Hulle het die afgelope paar jaar weens die droogte enorme hoeveelhede skuld aangegaan.

Luidens mediaberigte is die Vrystaat reeds tot rampgebied verklaar, maar Wilken sê hy is nie seker dat die provinsie reeds tot ’n rampgebied verklaar is en of slegs onderneem is om dit doen nie.

Hy sê me. Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, sal Donderdag per helikopter oor Bultfontein vlieg om die omvang van die droogte se skade daar te bepaal. Daarna behoort daar meer duidelikheid oor die provinsie se status te wees. As die staat die provinsie tot ramp verklaar, sal die staat moet toetree tot die krisis en hulp aan boere verleen. 

Landbouskuld

Wilken sê of die verklaring van ’n rampgebied in die Vrystaat die boere werklik gaan help, hang af van die tipe hulp wat hulle ontvang.

Goeie reënval is nie noodwendig goeie nuus vir veeboere nie. Wilken sê dat veeboere wat hul kuddes moet kleiner maak, reeds minder inkomste kry omdat ’n ooraanbod in die vleismark bestaan weens onder meer die droogte. As dit reën, word vee aan die vleismark onttrek om weer groter kuddes te bou en boere word weer van ’n inkomste ontneem.

Die ophoop van skuld is vir saaiboere ’n groot probleem, omdat van dié boere nie kon plant nie en gevolglik nie ‘n oes gaan hê nie. Diegene wat geplant het, se oes gaan ook nie noodwendig opkom nie, omdat daar nie genoeg opvolgreën geval het nie.

Hy meen die beste hulp wat die Regering aan boere kan bied, is om by finansiële instellings betrokke te raak en met maniere vorendag te kom wat boere sal help om hul skuld te bestuur en te voorkom dat boere hul plase moet verlaat. 

Noord-Kaap

Die Noord-Kaap is ook besig met die nodige voorbereidings om tot rampgebied verklaar te word. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het onlangs aangedui dat die provinsie egter nog nie om ’n ramphulpverklaring aansoek gedoen het nie.

Hoewel goeie reën in dele van dié provinsie geval het, is daar vele ander gebiede waar boere teleurgestel is. Mnr. Jim Bredenkamp van Postmasburg sê buiten ’n klein kolletjie in die omgewing van Witsand waar tussen 20 mm en 30 mm geval het, het daar nie juis reën geval nie. “Hier is mense wat hierdie somer nog nie 10 mm reën gehad het nie. Die omgewing lyk bitter aardig vir hierdie tyd van die jaar.”

Hy sê boere in die gebied maak staat op die goeie reënbui of twee wat hulle gewoonlik ná die winter kry, maar hierdie somer het die reën eers die afgelope vier weke begin val. “Jy hoor van groot reën, maar nie groot gedeeltes waar dit gereën het nie. Ons is egter dankbaar vir die reën wat ons wel gekry het.”

Mnr. Trompie van Rensburg van Victoria-Wes sê daar het gedurende die naweek 23 mm reën op sy plaas geval, terwyl ander boere 14 mm aangeteken het. Tot dusver het hy hierdie seisoen slegs 33 mm reën gehad – aansienlik minder as die langtermyngemiddelde van 250 mm tot 300 mm.

“Die droogte is nog ver van gebreek en die reën wat ons gekry het, is nie naastenby genoeg nie. As ons nie hierdie somer tussen 200 mm en 250 mm reën kry nie, gaan ons groot probleme hê.”

Mnr. Deon Hoon, ’n boer van die distrik Kuruman, sê daar het geen reën in dié gebied geval nie. Hy sê die gebied stuur op ’n ramp af as hulle nie binnekort reën kry nie, want hul weiding se groeitydperk is om besig om verby te gaan. “Ons gaan nie die winter kan deurmaak met die weiding wat ons nou het nie. Iets noemenswaardig sal moet verander.”

Hy sê boere in die omgewing is egter nog vol moed dat daar gedurende Februarie en Maart genoeg reën sal val om hul weiding te onderhou. “As dit tot middel Maart nog goed reën, sal ons nog ooie op die veld kan kry.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.