Só sê mnr. Wouter Wessels, VF Plus-LP en nasionale woordvoerder oor landbou, in reaksie op die groot afname onder Vrystaatse melkboere. Volgens die jongste syfers is daar nou slegs 186 melkboere in dié provinsie, vergeleke met 929 in 2009.

Die afname behoort vir die nasionale Depertement van Landbou gevaarligte te laat flikker. Anders as hul Amerikaanse en Europese eweknieë, ontvang Suid-Afrikaanse boere geen produksie-ondersteuning in die vorm van subsidies, bemagtiging en ander hulpbronne nie, sê Wessels in ’n verklaring.

Boonop dra die invoer van melk en melkverwante produkte by tot druk op die plaaslike mark. “Plaaslike melkboere ontvang minder as die markwaarde vir hul melk, omdat die invoer van melkverwante produkte vir onder meer die latere maak van suiwelprodukte soos botter en joghurt baie goedkoper is.” Dié produkte is volgens hom van laer gehalte as plaaslike geproduseerde suiwelprodukte.

“Die Regering behoort die binnelandse produksie van melk te stimuleer en ondersteun. Die landboubedryf is verantwoordelik vir die skep van duisende werkgeleenthede per jaar. 

“Melkboerdery is minder gemeganiseerd as graanboerdery en is in wese arbeidsintensief. Duisende werkgeleenthede gaan jaarliks verlore namate melkerye toemaak weens reuse- eksterne druk.”

Wessels sê die plaaslike suiwelbedryf lewer ’n reusebydrae tot binnelandse produksie en werkskepping.  “Dit moet beskerm en gestimuleer word.”

Die Regering behoort volgens hom voorrang te verleen aan die instelling van invoertariewe op suiwelprodukte. “Daar is byvoorbeeld geen invoertariewe op langlewemelk nie en hoewel daar ’n matige ooraanbod aan melk in Suid-Afrika was, is daar die afgelope jaar steeds nagenoeg 431 miljoen liter melk ingevoer.”

Wessels sê die Regering behoort verder ook die kleinhandelsektor te dwing om ’n vasgestelde kwota plaaslike suiwelprodukte te koop voordat invoerprodukte aangekoop mag word.