’n Onmiddellike verbod het Sondagaand 12 Julie ingeskop met pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die regering besluit het om dit weer in te stel om te voorkom dat hospitale belas word met alkoholverwante beserings wat vermy kan word.

Ingevolge die regulasies wat me. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, in die Staatskoerant afgekondig het, is daar sekere uitsluitings. Die vervoer van alkohol is toelaatbaar wanneer dit verlang word vir bedrywe wat handreiniger, ontsmettingsmiddels, seep, alkohol vir nywerheidsgebruik en huishoudelike skoonmaakmiddels vervaardig. Alkohol mag ook na hawens vervoer word vir uitvoer, asook vanaf vervaardigingsaanlegte na opbergingsgeriewe.

Dlamini-Zuma het gesê die verbod op alkoholverkope is ingestel, want die risiko verbonde daaraan is baie hoog en druk op die gesondheidstelsel moet beperk word.

“Toe daar ’n absolute verbod op die verkoop van alkohol was, het die aantal mense wat trauma-eenhede in Suid-Afrika besoek het, van 42 700 tot sowat 15 000 besoeke gedaal.

“Ná die opheffing van die verbod op die verkoop en verspreiding van alkohol in vlak 3 het gesondheidsgeriewe ’n beduidende styging ervaar in traumaverwante beserings en sterftes wat druk gevoeg het op die vermoë van die gesondheidsgeriewe.”

Sy het gesê gegewe die skerp styging in die aantal mense wat met Covid-19 besmet is en gesondheidsorg benodig, het die kabinet besluit dat dit belangrik is om beddens vir Covid-19-pasiënte beskikbaar te hê deur die moontlike gevaar van alkoholverwante traumagevalle te beperk.

Interprovinsiale reise is weer van die baan.

Gebrek aan masker strafbaar

Dit is nou verpligtend om jou neus en mond in die openbaar te bedek en die versuim daarvan kan lei tot ’n boete of selfs tronkstraf.

’n Masker van materiaal kan gedra word of enige huishoudelike item of ander wat die neus en mond bedek wanneer jy in die openbaar is. Geboue mag nie sonder die dra van ’n masker betree word nie en werkgewers moet sorg dat elke werknemer ’n masker het. Die werkgewer kan weier dat die werknemer werk verrig of die werkplek betree indien hy of sy nie ’n masker dra nie.

Mnr. Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het gesê sy departement werk nog aan die kwessie van strafregtelike vervolging vir die versuim om ’n masker te dra. Ingevolge die regulasies kan ’n boete of selfs tronkstraf vir hierdie oortreding opgelê word. Volgens hom is die regering gedwing om dit ’n strafregtelike oortreding te maak omdat mense nie gehoor gee aan oproepe om maskers in die openbaar te dra nie.

Die tronkstraf mag nie langer as ses maande wees nie.

Kommentaar oor die aangepaste vlak 3-regulasies kan na comments@hsrc.ac.za gestuur word.