Tog is die regering besig met ’n paaibeleid daaroor. Hy spreek hom daarteen uit om die gemeenskap te kalmeer, maar doen in werklikheid niks verder om dit te bekamp nie.

Mnr. Ernst Roets, beleidshoof van AfriForum, het met die organisasie se bekendmaking van plaasmoordstatistieke vir 2020 gesê ná die oproer by Senekal oor die moord op mnr. Brendin Horner (22) het pres. Cyril Ramaphosa en mnr. Bheki Cele, minister van polisie, hulle daarteen uitgespreek. Cele het selfs gesê plaasmoorde is ’n prioriteitsmisdaad nadat hy voorheen geweier het om dit as ’n prioriteitsmisdaad te beskou.

“Niks het egter verander nie en daar is nog geen toegespitste teenstrategie nie. Dit is pogings om die gemeenskap te laat kalmeer, maar sonder dat iets prakties gedoen word. Daarom moet ons aanhou met ons veldtog om druk op die regering te plaas en terselfdertyd moet ons self ook iets omtrent die probleem doen.”

Mnr. Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder van AfriForum, het bekend gemaak dat saam met die netwerkorganisasie Saai met ’n program begin word om plaasbewoners se weerbaarheid op te skerp. Dit sluit in beter beveiliging van plase, vuurwapenopleiding en noodhulp. Boere wat deelneem, word met tweerigtingradio’s toegerus.

“Ons wil boere toerus en opskerp om enige aanval te kan afweer. Ons sal selfs boere en hul gesinne met gratis regshulp bystaan as hulle aangekla word nadat hulle uit selfverdediging teen misdadigers opgetree het.”

Me. Andrea Muller, ’n navorser by AfriForum, het op die nuuskonferensie bekend gemaak dat daar verlede jaar 63 plaasmoorde was vergeleke met 45 in 2019. Die aantal plaasaanvalle was egter minder. Verlede jaar was daar 382 plaasaanvalle teenoor 2019 se 511 aanvalle. Tot dusver vanjaar was daar reeds 4 moorde in 43 plaasaanvalle.

Die meeste plaasmoorde in 2020 was in KwaZulu-Natal met 15, gevolg deur Gauteng (14) en die Vrystaat (9). Volgens Muller het die meeste moorde (25%) op ’n Maandag plaasgevind, met die meeste moorde (41%) van 19:00 tot 03:00. Altesaam 25% van die slagoffers was van 60 tot 69 jaar oud. In 66% van gevalle was dit die plaaseienaar, in 26% van gevalle ’n familielid of besoeker en in 8% van gevalle ’n plaaswerker. Gewoonlik was daar twee of drie aanvallers per voorval en in 25% van die voorvalle is voertuie gesteel om van die toneel te vlug.

Vennootskap

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, het gesê daar is geen hoop dat die situasie met plaasmoorde sal verbeter as daar nie ’n beter vennootskap tussen die polisie en plaaslike veiligheidstrukture gevestig word nie. “Ons het nie nuwe wetgewing of beleid nodig nie. Dit is net nodig om bestaande beleid toe te pas. Die landelike beveiligingsplan moet net uitgevoer word en meer opgeleide reserviste is nodig.

“Daar word dikwels gesê die plaasmoorde is maar deel van misdadigheid in die algemeen en dat die bendegeweld op die Kaapse Vlakte erger is. Daar is egter ’n baie groot verskil tussen hierdie moorde. Niemand moedig moorde op die Kaapse Vlakte aan soos met ’n ‘Kill the farmer, kill the boer”-slagspreuk nie. Daar is ook nie die wreedheid en marteling soos wat ’n mens op plase sien nie en derdens is daar nie op sosiale media applous soos wanneer daar ’n plaasmoord was nie. Daar is ’n baie besliste politieke ondertoon by plaasaanvalle.”

Hy het gesê die staat moet die omvang van die probleem erken en dit as ’n prioriteitsmisdaad hanteer.

Roets het beklemtoon ook dat niemand mislei moet word as die regering bloot sê dat hy die probleem in ’n ernstige lig sien nie.

“Die erns van die saak kan nie gemeet word in wat gesê word nie, maar wel in wat daadwerklik gedoen word.

“Ons glo ook nie die slagoffers van plaasaanvalle is belangriker as ander slagoffers nie. Ons vra nie spesiale behandeling nie, maar net gelyke behandeling. Wat ons daarmee bedoel, is die toepassing van die internasionale beginsel dat ’n unieke tipe misdaad met ’n unieke en toegespitste strategie beveg moet word.”