Só kan hulle krediete vanaf Eskom ontvang en hul kragrekenings verminder. Agri SA het onlangs gesê boere kan ook op dié manier help om beurtkrag te voorkom.

Die afhandeling van die registrasieproses sloer al lank.

Mnr. Chris Schutte, direkteur van die sonkragmaatskappy Sonfin, sê Nersa se energiereguleerderkomitee het op 1 Maart ’n registrasieheffing van R200 goedgekeur, wat die laaste uitstaande kwessie rakende die registrasieproses was.

Sonfin installeer sonstelsels vir boere waarmee hulle krag wat hulle nie dadelik gebruik nie, op die Eskom-netwerk kan opberg.

Schutte sê Nersa moet nog ’n registrasiebeampte aanstel, maar het onderneem om dit gou te doen.

Nersa het in Desember in ’n dokument oor die voorgestelde heffing gesê hy verwag sowat 100 aansoeke per maand, gegrond op wat hy tot dusver ontvang het, maar dit kan styg namate mense meer bewus raak daarvan dat Nersa klein kragopwekkers kan registreer.

Schutte is optimisties dat boere wie se registrasie-aansoeke volledig is, in die toekoms nie lank vir goedkeuring sal hoef te wag nie. Boere moet egter besef dat hulle, voordat hulle so ’n aansoek by Nersa kan indien, eers deur ’n hele proses by Eskom moet gaan, wat lank duur.

Schutte hoop die feit dat pres. Cyril Ramaphosa en mnr. Jeff Radebe, minister van energie, onlangs opnuut hul verbintenis tot hernieubare energie bevestig het, sal help dat Eskom sy prosesse vinniger afhandel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.