’n Belegger wat sowat R90 miljoen kwyt is weens die beweerde bedrog van wyle mnr. Herman Pretorius se Relatiewe waarde-arbitrasiefonds (RVAF-fonds) sê hy en ’n groep ander beleggers oorweeg ’n groepgeding teen die Raad op Finansiële Dienste (RFD).
 
Die RFD moes luidens ’n berig in Die Burger sedert Pretorius se skietdood bontstaan aangesien dit onder meer vir die regulering van beleggings aan die publiek verantwoordelik is. Die raad word daarvan beskuldig dat hy nie sy werk deeglik gedoen het nie, maar dit ontken dié aantygings ten sterkste.
 
Landbou.com het vroeër berig dat sowat 70 beleggers op Donderdag (18 Oktober 2012) in Bellville, Kaapstad, vergader het om die situasie en ’n moontlike pad vorentoe te bespreek. Pretorius het homself na bewering op 26 Julie 2012 om die lewe gebring ná hy ’n vennoot doodgeskiet het. Die opsie om die raad te laat vervolg, is toe bespreek. Lees meer hier.

Skuldgevoel
Mnr. Mike le Sueur, ’n sakeman van die Strand wat deel is van die groep, sê hy het sowat R60 miljoen by Pretorius belê, maar as die rente op dié geld ingereken word, word hy sowat R89 miljoen geskuld. Hy het verskeie van sy ondernemings verkoop om geld by Pretorius te belê.

Le Sueur het op advies van mnr. Michael Calitz, ’n “agent”, sy geld belê. Calitz sê hy weet nie waar die geld is nie, maar die oordragte wat hy gehanteer het, het wettig plaasgevind.
 
Le Sueur sê hy is moeg vir die hele debakel en hou tans die situasie dop om te kyk wat gebeur. “Wat kan ek sê? Ek voel baie sleg daaroor. Daar is baie mense wat nou aan my sê ek moes die briefhoofde nagegaan het en meer inligting gekry het. Eindelik gaan dit maar oor die vertroue wat jy in jou ‘agent’ gestel het.” Hy het ook van sy gesinslede se geld en ’n familietrust laat belê.
 
Bron: Die Burger