Die FairPlay-beweging teen storting het in regter Richard Goldstone 'n swaargewig-kampvegter aan sy kant gekry.

Goldstone, 'n internasionaal erkende juris en kampvegter vir menseregte, het onlangs FairPlay se beskermheer geword. FairPlay is gekant teen die verkoop van goedere teen pryse laer as produksiekoste en sy eerste projek is om storting van hoender in Suid-Afrika te stuit.

Mnr. Francois Baird, FairPlay-stigter, het in 'n verklaring gesê Goldstone is internasionaal bekend as iemand wat ongeregtigheid beveg. “Ons sien uit na sy leiding in ons wêreldwye stryd teen storting.”

Internasionale ervaring

Volgens Baird sal Goldstone se wye regs- en internasionale ervaring van onskatbare waarde vir FairPlay wees.

Goldstone het volgens die verklaring benadruk dat hy 'n ondersteuner van handel en mededinging is.

“Wanneer internasionale handel geskied volgens die reëls waaroor multilateraal in die Wêreldhandelsorganisasie ooreenkom gekom is, bevorder dit welvaartskepping vir almal en dien alle belanghebbendes in die waardeketting,” sê hy.

Vernietig werkgeleenthede

“Storting oortree egter die reëls en in die proses vernietig dit op 'n onbillike manier waarde, werkgeleenthede en mededinging.

“As ons billike mededinging in internasionale handel wil hê, moet alle deelnemers billik en volgens die internasionale ooreenkomste wat hul lande onderskryf, handel dryf.”

Goldstone het al verskeie belangrike regs- en menseregteposisies beklee. Hy was onder meer die voorsitter van Suid-Afrikaanse en internasionale kommissies van ondersoek en besoekende hoogleraar aan universiteite in Amerika en Europa.