Dit lyk of me. Maite Nkoana-Mashabane, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, die bul by die horings wil pak en twee wildplase in Limpopo, waarop daar grondeise is, onteien. Kom ons bekyk dié aangeleentheid van nader. Eerstens is hierdie nie onteiening sonder vergoeding nie. Die staat het aanbiedings gemaak, wat die grondeienaars geweier het.

Die besonderhede is vaag, maar ’n mens kan aanvaar die waardeerder-generaal het die waarde bepaal en die eienaars het dit as te laag beskou. Die pos van waardeerder-generaal is juis geskep om te verseker dat die staat nie meer as die markwaarde betaal nie. Dit was voorheen baie keer die geval weens gebrekkige onderhandelings, blote onvermoë of korrupsie.

Soos verwag kan word, het die waardeerder-generaal se betrokkenheid nie die proses bespoedig nie. Die aanstelling van ’n openlik politieke en ideologies-gemotiveerde amptenaar om pryse af te dwing, het eerder transaksies tot stilstand gedwing omdat eienaars geweier het om té lae pryse te aanvaar.

Hierdie mislukking het bygedra tot die debakel oor onteiening sonder vergoeding. As eienaars nie wil verkoop nie, dan onteien ons, meen die staat. Hierdie is ’n gedwonge proses om iets te bereik wat veel makliker deur vaardige onderhandelings bereik sou kon word. Dit is soos om vlieë met ’n voorhamer te probeer doodslaan.

MOEILIKE EISE

Een van die department se grootste frustrasies is die stadige pas waarteen eise afgehandel word. Die eerste voor die hand liggende eise, waar apartheidswette openlik gebruik is om grond te ontneem, was maklik om af te handel. Die meeste eise is nou egter nie eenvoudig nie.

Daar moet diep in die verlede gedelf word om die geldigheid van die eise te bepaal en die staat het dikwels nie die vermoë om deeglike navorsing te doen nie. Daarby is baie eise ’n klug wat nie aan die vereistes van die wet voldoen nie en nie bewys kan word nie.

In die verlede het grondeienaars nog verkoop as die prys gunstig was, maar noudat die waardeerder-generaal die vergoeding bepaal, dring die eienaar eers aan dat die eis bewys moet word en die staat het nie dié vermoë nie. Die volgende uitweg vir die staat is om hom nou tot onteiening te wend.

Onteiening het al voorheen op beperkte skaal geskied, maar dit is beperk juis omdat dit makliker is om te onderhandel as om met onteiening te slaag. Weens sy kortsigtigheid het die staat nou hierdie deur toegemaak.

NIE SO EENVOUDIG

In die geval van die Akkerland-plase wat Nkoana-Mashabane wil onteien, is die minister seker deur haar amptenare verseker dat die eis geldig is en dat die navorsingsverslag die eis ondersteun. Die eienaars is “net gierig”. Dit is egter nie so eenvoudig nie.

Die afkondiging van ’n eis in die Staatskoerant beteken nog glad nie dit is geldig nie. Dit beteken net dit is betyds ingedien, voldoen aan die basiese vereistes en is op die oog af nie bedrieglik nie. Daarby is baie navorsingsverslae deur amptenare, pleks van kenners en geskiedkundiges, opgestel. Dit is waardelose, spoeg-en-plak-pogings wat nie die toets in ’n hof sal slaag nie.

As Nkoana-Mashabane se poging tot onteiening sonder vergoeding hersien sou word, wag daar dalk ’n paar ernstige struikelblokke op haar: Sy kan nie bloot aanvaar die eis is geldig nie en haar eie navorsingsverslae vorm waarskynlik nie ’n stewige grondslag nie.

Selfs al is daar nie fout met die eis nie, kan sy nie aanvaar die Grondeisehof sou op restitusie besluit pleks van byvoorbeeld geldelike vergoeding of alternatiewe grond nie. Al is die eis ’n goeie een en restitusie is geregverdig, bly dit steeds ’n beslissing wat die hof moet maak; nie die minister nie.

Sy het ook geen rede om goedsmoeds te aanvaar dat die waardeerder-generaal se waardasie deur die hof aanvaar sal word nie. Waardasies is ’n basiese, objektiewe proses, en wanneer daar politieke oorwegings begin bykom, gaan ’n regter nie maklik oortuig word nie.

Teoreties gesproke is onteiening heeltemal wettig en ’n redelike opsie. In werklikheid is dit ’n buitengewone oplossing wat – soos buitengewone eise – buitengewone bewyse verg.

Die staat is nie regsvaardig genoeg om met hierdie benadering sukses te behaal nie. Al wat oorbly, is ’n verandering aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding toe te laat en – wat my betref – sal dit ook nie werk nie. Dit sal nie regverdig en billik wees nie, behalwe in uitsonderlike omstandighede. Dit sal ook op baie min sake van toepassing kan wees.

Spoor is 'n veteraanprokureur van Mpumalanga wat onder meer silikoselyers teen mynmaatskappye verteenwoordig het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.