Só het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aangedui.

Een van die twee prosesse van die meesterplan waaraan die regering se tegniese span werk, toon reeds vordering met die kabinet wat sy toestemming gegee het dat die wetsontwerp vir die private gebruik van dagga van die departement van justisie by die parlement ingedien kan word. Hierdie wetsontwerp is genoodsaak nadat die Grondwethof die parlement in 2018 gelas het om die grondwetlike tekortkoming in die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels (Wet nr. 101 van 1965) en die Wet op Dwelms en Dwelmhandel (Wet nr. 140 van 1992) te wysig sodat volwassenes dagga in die privaatheid van hul huis mag kweek, besit en gebruik. Die ander proses het te doen met die lisensiëring van dagga en hennep.

Die verwantskap van hennep (hemp) as ’n variëteit van dagga het verskeie beperkinge op die produksie van hennep meegebring.

Die grootskaalse kommersiële produksie van hennep word ook in terme van die twee wette verbied.

Vordering met hennep

In April verlede jaar het die reguleringsowerheid vir Suid-Afrikaanse gesondheidsprodukte ’n paar lisensies goedgekeur vir die verbouing van dagga vir die farmaseutiese mark.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het ook ’n versoek gerig dat die wette gewysig moet word sodat hennep kommersieel in Suid-Afrika geproduseer kan word. Dié departement vorm saam met die departemente van justisie, gesondheid, plaaslike regering en tradisionele sake en polisie, die tegniese komitee wat met die nuwe regulasies en wetgewing vir dagga en hennep gelas is.

Didiza het uitgewys dat die departement van gesondheid die voortou neem rakende die lisensiëring van dagga en hennep. Die departement van gesondheid het nog nie die reguleringsgedeelte van die plan voltooi nie en daar word verwag dat dit teen die einde van die vierde kwartaal voltooi sal wees, het sy gesê.

Dit is bekend dat die Landbounavorsingsraad reeds twee variëteite hennep, SA Hemp1 en SA Hemp2, gereed het wat plaaslik kommersieel verbou kan word sodra die wetgewende prosesse afgehandel is. In sy staatsrede in Februarie vanjaar het pres. Cyril Ramaphosa aangedui dat die  regulasies vir die kommersialisering van hennep in Suid-Afrika – wat geleenthede vir kleinskaalse boere sal bied – nog vanjaar afgehandel sal word.  

Mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het by ’n portefeuljekomitee-vergadering by die parlement uitgewys dat hulle wil sien dat bestaans- en kleinskaalse boere ondersteun word om deel te neem aan die nywerheidswaardeketting van hennep. “Die pakket, wanneer dit ten volle ontwikkel is, sal finansiering en infrastruktuur asook tegniese en raadgewende ondersteuning insluit.”

Hierdie inligting sal weergegee word wanneer die meesterplan voltooi is.