’n Suid-Afrikaanse burger wat in Londen woon, het ’n vloedgolf reaksie ontketen met ’n treffende video wat die jag van renosters as sinloos bestempel.


Die vervaardiger van die video, mnr. Mark Warren, sê hy kan nie verstaan hoekom jagters toegelaat word om groot bedrae te betaal om renosters te jag, terwyl die spesie se getalle afneem nie. Hy meen dié geld kan eerder aangewend word om die voortbestaan van renosters te verseker.


Warren se video is al meer as 260 000 keer op YouTube gekyk. Kyk hier na die video.




Die Private Rhino Owners Association (PROA) sê egter ’n moratorium op die jag van renosters sal nié Suid-Afrika of dié bedreigde spesie se probleme weens stropery oplos nie. Dít volg op die video deur Warren, wat op die internet bekend staan as Pharside.


Vier komponente

Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die PROA, sê die wettige jag van renosters dra uiteindelik by tot die spesie se voortbestaan. Jones sê die renosterbedryf konsentreer op vier komponente: Toerisme, teel en verkoop, trofeëjag en produkwaarde.


Hy sê vanweë aanteel in die Kruger-wildtuin verkoop dié reservaat talle renosters om oorbevolking te voorkom. “As private eienaars ophou om renosters by die Kruger-wildtuin te koop, sal hulle met ‘n oorbevolking sit, wat ’n nadelige uitwerking op die aanteel en voortbestaan van die diere sal hê.”


Om dieselfde rede dat die Kruger-wildtuin renosters verkoop, laat private eienaars van hul renosters jag – om teling te bevorder. Jones sê sowat 50% van alle renosters wat gebore word, is manlik. As te veel bulle in dieselfde geografiese gebied voorkom, raak die bulle aggresief, wat daartoe lei dat die bulle mekaar asook van die koeie kan seermaak of doodmaak.


“Dit is dus tot die bedryf én die spesie se voordeel dat wettige jag voorkom,” verduidelik Jones.


Volgens Mark se video kan ’n kilogram renosterhoring tot R69 000 in die sluikhandel haal. Volgens Jones is die grootste uitdaging met stropery die feit dat ’n dooie renoster se waarde tans hoër is as dié van ’n lewende renoster. Derhalwe beveel hy aan dat handel in renosterhoring gewettig word.


16 Januarie 2012