Me. Marjolijn Malan, organiseerder van uitstalling van die Overberg se inheemse flora in die BKB-saal by Nampo Kaap, sê dié koningskandelaar is die grootste in sy soort ter wêreld.

“Dis die meeste koningskandelaarblomme wat nog ooit in die wêreld in een uitstalling saam gebruik is.”

Die bestuur van Nampo Kaap het Malan, wat onder meer ’n lid van die Wes-Kaapse Blomme-vereniging is, genader om ’n unieke uitstalling van inheemse flora saam te stel. Mnr. Dirk Giliomee, ’n plaaslike boer, het haar met die uitstalling bygestaan.

Sy het die droë koningskandelaarblomme, wat net van Februarie tot April blom, in die veld bymekaar gemaak.

“Ek het besluit om reg rondom die kandelaar verskillende blommerangskikkings te maak van tonele wat eg aan die Overberg is. Die rangskikkings is gekombineer met swart en wit foto’s van natuurtonele uit die spesifieke streke van die Overberg waar die blomme voorkom.”

Mnr. Gerhard van Deventer, van die Sandberg-fynbosnatuurreservaat, stal ook verskeie soorte fynbos uit wat op dié reservaat van sowat 700 ha beskikbaar is.

Mnr. Toit Wessels, assistentbestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA, sê hulle beoog om dié uitstalling by Nampo Kaap 2019 selfs groter te maak.

“Die droogte het ook ’n impak op die natuurlike flora gehad, maar ons hoop dat dié uitstalling volgende jaar nóg groter sal wees.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.