Mnr. Willem le Grange, ’n plaasbestuurder van Ruiterbos buite Mosselbaai, het dié enorme pampoen gekweek. Dit verbeter die fees se rekord van 860 kg, wat verlede jaar deur mnr. Piet Lotz, ’n boer van Riversdal opgestel is. Willem se reusepampoen is die swaarste pampoen wat nog in Suid-Afrika gekweek is.

Dié indrukwekkende pampoen was meer as 200 kg swaarder as die pampoen van mnr. Casper le Grange, Willem se pa, wat die tweede plek behaal het met sy pampoen van 665 kg. Altesaam 15 kwekers het vir die kompetisie ingeskryf. Mnr. Pieter Conradie was derde met ’n pampoen van 567 kg.

Lotz, ook ’n beoordelaar van die kompetisie, sê die gehalte van die pampoene op vanjaar se fees was goed. “Die gehalte raak elke jaar beter. Die kompetisie raak strawwer en die pampoene raak al hoe groter.”

Willem le Grange pampoenplant
Die plant groei in ’n Kersboom-vorm met ’n hoofrank en syranke. Foto: Verskaf

Willem sê daar is nie ’n geheime bestanddeel vir sy reusepampoen nie, dit moet net genoeg aandag kry. Dit het sowat 50 dae gekos om die pampoenplant te kweek en sowat 100 dae vir die pampoen self om te groei. “Mense dink dit groei baie langer. Sommige mense vra hoeveel jaar groei so ’n pampoen!”

Hy sê as die pampoen mooi groei, kan dit tot 25 kg per dag swaarder word.

Die plant groei in ’n Kersboom-vorm met ’n hoofrank en syranke. Die ander ranke is afgebreek sodat alle voedingstowwe gestuur word na die rank wat die pampoen voed. "Jy loop ook nie op grond nie, anders trap jy die grond te vas."