Johanna se gewig is ’n rekord in dié kompetisie en maak haar ook die grootste pampoen wat nog noord van die Oranjerivier gekweek is.

Die pampoenpit waaruit Johanna gegroei het, is verlede jaar op 5 Oktober geplant. Lamprecht sê dit het baie geduld en liefde geverg om die plant te versorg.

“Daar is daagliks na die plant omgesien om oorbevolkte ranke en siektes te voorkom. Verdere versorging behels ’n gazebo om die pampoen teen die son en reën te beskerm en waaiers om die stingel droog te hou van vog en sug wat uit die pampoen kan kom. Dié vogtigheid kan veroorsaak dat die pampoen slegte plekkies kry wat tot verrotting sal lei. Ongewenste weerstoestande kan die pampoen laat platval, daarom word waaiers en komberse gebruik om dit te beskerm.”

Johanna het van 200 liter tot 700 liter water per dag opgeneem. Me. Lizzie Lamprecht, Wykus se ma, het ook getrou gehelp om die pampoen te versorg.

johanna pampoen
Links is Johanna, Wykus Lamprecht se reusepampoen van 790 kg.

Wykus was as kind al lief vir groentetuine en sy reusepampoene het al vele pryse losgeslaan. Hy het in 2015 op die pampoenskou by The Shed on R59 in Walkerville, Midvaal, vir die eerste keer met reusepampoene kennis gemaak.

Op hierdie skou het sy oom mnr. Harry Lamprecht sy eerste pampoen van 60 kg ingeskryf. Die volgende jaar het Wykus hierdie stokperdjie begin beoefen en sy eerste pampoen, Zottie, het 119 kg geweeg.

Verlede jaar was ’n moeilike jaar aangesien hy ’n hele paar pampoene weens siektes verloor het. Die pampoen Oupoot het gelukkig die siektes oorleef en met ’n gewig van 283 kg ’n tweede plek op die Walkerville-skou behaal.

Ná verlede jaar se kompetisie het Wykus ’n grondmonster gestuur om vir siektes te laat toets en ’n ontleding van die grond se samestelling te doen. Met die samewerking van Nulandis se landboukundiges en ’n spesiale Facebook-vriend, mnr. Shane Newitt van Tasmanië in Australië, was die grond met behulp van aanvullings weer in die ideale toestand vir die nuwe plant.

Wykus het gehoop om ’n pampoen van 455 kg te kweek, maar Johanna het al sy verwagtinge oortref. Hy beoog om in die volgende seisoen nuwe deelnemers by te staan en aan te spoor om ook met hierdie stokperdjie sukses te behaal. Sy lewensleuse is juis hiervoor gepas: Opgee is nie ’n opsie nie!