Die gesigte van die boere wat ten spyte van hierdie droogte steeds kos op Suid-Afrika, en hul eie families, se tafels probeer sit, is egter nie die eerste ding wat by ’n mens opkom nie. Dit is juis waarom me. Ilze Myburgh en haar mederegisseur, mnr. Götz Froeschke, met hul rolprent, The Devastation of Drought, vir die droogte ’n gesig wil gee.

Die idee om ’n rolprent oor die droogte te maak het in 2019 by Myburgh posgevat. In daardie stadium het verskeie gebiede reeds jare onder die droogte gebuk gegaan en het dit regtig sy tande begin wys. As rolprentmaker het sy gevoel dat deur vir meer mense te wys hoe die gebiede en mense lyk wat deur die droogte geteister word, sou meer mense betrokke raak en hulle probeer help.

Froeschke het van Duitsland af gekom en die twee is Noord-Kaap toe om die rolprent, wat veral konsentreer op Sutherland, Calvinia en Williston, te maak.

Die rolprent sou verlede jaar in Mei in Ster-Kinekor se teaters vertoon word. Dit is egter deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery. Baie van die rolprentfeeste waar hulle die rolprent wou vertoon, is ook afgelas. ’n Jaar later gaan verskeie gebiede steeds onder die droogte gebuk en daarom is besluit om die rolprent vanjaar op 17 Junie, Wêrelddroogtedag, op YouTube bekend te stel.

“Die tydsberekening is eintlik beter, want nou kan ons, terwyl die meeste mense al weet van die boere wat weens die droogte ly, almal herinner dat dié boere steeds hulp nodig het. Ons het ook besluit om die rolprent op YouTube bekend te stel sodat soveel moontlik mense dit kan sien.”

The Devastation of Drought
Baie van die boere wat in die rolprent verskyn, het intussen alles weens die droogte verloor. Foto: Verskaf

Alles verloor

Sy vertel baie van die boere wat in die rolprent verskyn, het intussen alles weens die droogte verloor. “Die bietjie reën wat vir hulle gekom het, was te laat. ’n Bietjie reën breek ook nie ’n droogte nie, want daar is soveel plantegroei in die veld wat moet herstel. Dit is een van die onderwerpe wat ons in die rolprente aanroer.”

Sy sê sy was geskok toe hulle in die Noord-Kaap kom en sien hoe dit daar lyk. Dit is egter nie wat haar gebreek het nie. “Jy weet hoe tough is ’n boer. Groot boermans het by my gehuil. En ek praat nie van ’n traantjie pik nie. Daardie mense is só hartseer, só desperaat, só teen die grond. Tydens sommige van die onderhoude kon ek nie anders as om ook te huil terwyl ons verfilm het nie.

“Boere in Suid-Afrika kry in verskeie opsigte baie teenstand en min hulp, terwyl hulle sout van die aarde is. Hulle het ons by hul gemeenskappe ingeneem asof ons deel van die gemeenskap is. Ons was aan huis by mense wat so te sê niks het om te bied nie, en dan het hulle vir ons ’n feesmaal voorgesit met dit wat hulle het. Dit is hoekom ons alles in ons vermoë wil doen om hulle te help.”

Die Covid-19-pandemie het volgens haar tot gevolg gehad dat mense vergeet van die boere wat steeds sukkel. “Kan jy dink hoe erg hulle nou sukkel met Covid-19 boonop?”

Wanneer ’n boer die plaashek finaal moet toetrek nadat sy familie vir generasies suksesvol op die plaas geboer het, is nog ’n werklikheid wat in die film aangeroer word. “Die skuld wat die boere dan ervaar, al is dit nie hul skuld nie, dryf mense se depressievlakke die hoogte in. En tog bly hulle so vriendelik en verwelkomend.”

Sy is steeds in kontak met die mense wat deel van die rolprent was. “Ek kry boodskappe wat sê die wind waai, ek moet duim vashou vir reën. Dan kry ek later nog ’n boodskap wat sê dit het net 2 mm gereën. Jy vóél so vir daardie mense. ’n Mens waardeer nie as jy jou lekker karoolamtjoppie geniet watter moeite en liefde daar in daardie produk gaan nie.

“Wat gaan gebeur as hulle nie hulp kry nie? As hulle wegtrek en ons al daardie vaardighede verloor?”

Dit is volgens haar op sommige plekke so droog dat dit lyk asof die son selfs die klippe verskroei. Mense wat in rye staan om kospakke te ontvang net om te oorleef, is net so hartseer om te aanskou. “Mense kom watter tyd van die oggend daar aan en staan heeldag in ’n ry vir daardie pakke.”

Sy hoop dat die rolprent mense sal aanmoedig om by droogtehulp-organisasies betrokke te raak. “Dit maak nie saak by watter organisasie jy kies om betrokke te raak nie, solank jy net iewers betrokke raak.”

Jy kan The Devastation of Drought vanaf 17 Junie om 19:00 op YouTube kyk.