Veral rooijakkalse en rooikatte veroorsaak skade by kleinvee, sê ’n boer wat by De Aar boer. “Dit is noodsaaklik vir ’n boer om probleemdiere met ’n jaggeweer te skiet. Gifhalsbande om lammers se nekke is onprakties. Slagysters vang ook baie onskuldige diere.”

Volgens hom het roofdiere die afgelope twee dekades drasties vermeerder. Hy reken ’n boer kan tot soveel as 100 lammers in ’n seisoen verloor.

“Voor 1995 het ek nie rooikatte in my omgewing gekry nie. Van 1926 tot 1990 toe jakkalsproef oral gespan is, was daar min jakkalse in die Karoo. Nou maak ek gemiddeld twee of drie per maand dood. ’n Rooikat maak elke derde aand ’n lam dood. Een aand is vyf van my lammers op ’n streep doodgebyt.

“Rooijakkalse is moeiliker om te bestuur omdat hulle so baie rondbeweeg. ’n Vriend van my het in een aand sewe jakkalse by hom gevind.”

Skanse

Een keuse is om jakkalsdraad te span of elektriese heinings op te rig. Die boer kan ook kampe span waarin jakkalse vasgekeer en geskiet word, sê hy.

“Sommige boere kan beroepsjagters bekostig, maar hulle is nie altyd beskikbaar nie. Wanneer ek jag, roep ek die jakkalse met geluide nader sodat ek hulle op tussen 100 m en 400 m kan skiet. Dit vereis akkuraatheid.”

Die voorgestelde wysigings waarin die herlaai van ammunisie verbied word, wek ook kommer. Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging sê in sy kommentaar oor die voorgestelde wysigings dat duisende herlaaiers moontlik benadeel gaan word.

Jagters en sportskuts herlaai vir akkuraatheid en om koste te bespaar. Selfherlaaide patrone skiet baie akkurater as gekoopte patrone. Die boer sê hoewel hy op ’n jagtog net enkele patrone gebruik, gebruik hy baie meer wanneer hy vir oefening skiet.

“Ons is afgeleë en ver van ammunisiewinkels. Dit is prakties om in groot maat te koop, maar die nuwe wet verbied ons om ons eie slagdoppies, doppies, kruit en punte te koop.

Elke skut het sy eie kombinasie om die punte, doppie en kruit bymekaar te sit wat by sy geweer pas, wat akkuraatheid bevorder,” sê hy.

Voorgestelde beperkings op vuurwapenbesit gaan boere se opsies om probleemdiere soos rooikatte en jakkalse te beheer, drasties beperk. FOTO: ANDRIES GOUWS

Meer jakkalse

Mnr. MF Scheun, ’n beroepsjakkalsjagter van Hopetown wat die afgelope 12 jaar sowat 5 000 jakkalse in dele van die Oos-Kaap en Noord-Kaap geskiet het, sê volgens sy berekeninge het jakkalsgetalle die afgelope drie dekades aansienlik gestyg.

“Waar ’n teelpaar voorheen net vyf welpies in ’n werpsel sou hê, is dit deesdae agt. Daar is ook nie meer baie boere en werkers op plase wat bestuur toepas nie. Op plase waar daar met wild en beeste geboer word, is daar nie dieselfde roofdierbestuur soos op kleinveeplase nie.”

Rooikatte kom minder voor omdat ’n teelpaar hoogstens drie kleintjies in ’n werpsel kry.

“Die voorgestelde wysigings sal ’n ernstige terugslag vir my besigheid wees omdat ek my eie patrone herlaai waarmee ek baie akkurater skiet. Met my eie patrone sal ek 98 uit 100 jakkalse doodskiet, maar net 60 uit 100 met gekoopte ammunisie.