Dit is op 31 Mei in die amptelike tydskrif van die Europese Unie (EU) aangekondig.

Rooibos word verklaar as ’n produk met beskermde aanduiding van oorsprong as dit van die Aspalathus linearis-plant gemaak word wat in ’n spesifieke gebied – in hierdie geval spesifieke munisipaliteite in die Wes- en Noord-Kaap – geproduseer, verwerk en voorberei word met behulp van kennis wat ook eie aan dié spesifieke gebied is.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê rooibos is een van die Wes-Kaap se mees ikoniese produkte en die insluiting daarvan op die register is ’n aanduiding van sy unieke eienskappe. Dit laat die bedryf ook toe om die EU-handelsmerk op sy verpakking aan te dui, wat sal aandui dat dit ’n unieke, eksklusiewe produk is.

Hy sê dit skep beter bemarkingsgeleenthede in die EU vir die bedryf. “Ons verwag dat dit sal lei tot ’n toename in vraag deur oordeelkundige kliënte waarby die plase wat die produk geproduseer het, uiteindelik sal baat vind.”

Die rooibosbedryf voorsien werk en inkomste aan sowat 8 000 mense. Meyer sê die EU se besluit bied ’n geleentheid vir die rooibosbedryf om te groei.

Dr. Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, sê die departement werk al sedert die 1990’s saam met die rooibosbedryf om te verseker dat niemand die naam “rooibos” kan misbruik nie. “Die insluiting van rooibos op die register beskerm ons nageslagte se erfenis.”