Die bedryf moet egter kennis neem dat verbruikers nie altyd hou van die manier waarop diereprodukte geproduseer word nie.

Mnr. Rick Kleyn, voerkonsultant en stigter van Spesfeed, het op die Vereniging van Veevoervervaardigers (Afma) se simposium in Pretoria gesê produsente sal dus voedselsekerheid op ’n volhoubare manier moet benader, terwyl hulle produkte lewer wat die verbruiker wil hê.

“Sowat 40% van alle landbouprodukte word tans deur die veebedryf gelewer, maar terselfdertyd benut die veebedryf sowat 70% van alle landbougrond, wat natuurlik nie ’n goeie vergelyking is nie,” het Kleyn gesê.

Intussen is die voedselsekerheidsituasie in Afrika nie rooskleurig nie, met 28% van Afrika-huishoudings wat ondervoed is. In teenstelling daarmee is dié syfer vir huishoudings in Amerika 11%.

Kleyn het gesê 33% van alle voedsel wat geproduseer word, word vermors. In Afrika suid van die Sahara is die situasie selfs erger deurdat 40% van alle voedsel wat in die streek geproduseer word, verlore gaan nog voordat dit die voedselwaardeketting bereik.

Geleentheid

Sowat 80% van Afrika se landbou bestaan uit kleinboere wat op oppervlaktes van 2 ha en kleiner boer. Kleyn het gesê daarin lê ’n geleentheid opgesluit, aangesien dié boere potensiële voedselverskaffers kan wees wat voedselsekerheid kan bevorder, mits hulle die regte ondersteuning kry.

“Nie net los dit die kwessie van voedselsekerheid op plaaslike vlak op nie, maar dit is ’n kragtige wapen om armoede te verlig,” het Kleyn gesê.

Maklik gaan dit egter nie wees nie. “Daar is beslis struikelblokke, waarvan die aanwending van tegnologie, toegang tot finansiering en marktoegang van die grootstes is. Om hierdie struikelblokke te bowe te kom sal daar dus nuwe aansporings en beleide van regeringskant af moet wees, terwyl finansiële instellings bereid sal moet wees om maniere te vind om hierdie boere te finansier. Kleinboere het ook toegang tot produksiemiddele en markte nodig. Dit help nie jy produseer 500 eiers per dag, maar jy kan slegs 100 verkoop nie,” het Kleyn gesê.

Om te verseker dat Afrika se kleinboere volhoubaar bly boer en ’n bydrae tot voedselsekerheid lewer, het hulle volwaardige tegniese dienste nodig met massiewe ingrypings van verskeie regerings. Plaaslike regerings sal ook die nodige politieke en maatskaplike wil moet ontwikkel om die status quo te verander.

Rooivleis goedkoopste nog

Dit sal beteken dat regerings en verbruikers boere se insetkoste sal moet help dra deur meer te betaal vir diereprodukte. “Rooivleis is byvoorbeeld tans op die goedkoopste vlakke wat dit nog was. Dit is ’n situasie wat sal moet verander as kleinboere die geleentheid sal hê om volhoubaar voedsel te verskaf.”

Uiteindelik is die doelwit om bekostigbare, veilige, eenvormige en ongeskonde voedsel te verskaf, terwyl die welstand van die diere waarmee geboer word, verseker word.

“Boere moet al hierdie faktore in ag neem, terwyl hulle boonop die impak op die omgewing in gedagte hou en ’n volhoubare wins maak. Dit is nie ’n maklike taak nie. Ons sal gevolglik nuut moet dink oor die manier waarop ons diereprodukte produseer. Afrika se boere het die vaardighede om volhoubaar met vee te boer, maar dan gaan hulle volhoubare ondersteuning nodig hê,” het Kleyn gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.