Só het mnr. Wessel Lemmer, senior landbou-ekonoom by Absa Agribesigheid, op die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasies (RPO) se jaarvergadering op Laingsburg gesê.

Lemmer het die rooskleurige voorspelling gemaak tydens ’n algemene oorsig van die plaaslike landbou-ekonomie. Hy het gesê die gemiddelde groei in die Suid-Afrikaanse rooivleis-produksiesektor is bogemiddeld en word ondersteun deur rooivleisproduk-uitvoer, asook dié van wolpryse en grane. “Die gemiddelde groei van die rooivleisbedryfsektor in Suid-Afrika die afgelope tien jaar, tesame met sy ondersteunende sektore, was wat beesvleis betref 200%, skape en bokke 146%, varke 148% en wol 205%, terwyl ander lewendehaweprodukte ’n gemiddelde groei van 155% getoon het.” 

Toptien

Die rand word beïnvloed deur feitlik elke groot internasionale gebeurtenisse, en dit het ook ’n impak op die rooivleisprodusent se inkomste. “Die rooivleisbedryf, veral beesvleis, tel egter onder die dertien vinnigste groeiende landbousektore, terwyl die wolbedryf onder die 112 vinnigste groeiende sektore val – as ondervertakking van die rooivleisbedryf,” het hy gesê.

Die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer plaas egter groot druk op rooivleisuitvoer, terwyl dit ook ’n ongunstige impak op voerkraalpryse het. “So het speenkalfpryse ’n skerp daling getoon teenoor verlede jaar,” het Lemmer gesê.

Wat nog ’n groot impak op veral internasionale voerpryse het, is die handelsoorlog tussen Amerika en China, “maar lande in die Suidelike Halfrond word minder daardeur geraak as die meeste lande in die Noordelike Halfrond.” Op kort termyn word mieliepryse deur die hoë reënval in Amerika ondersteun, wat nie goeie nuus vir plaaslike speenkalfpryse is nie.

Hy het gesê plaaslike lamsvleispryse, asook laer plaaslike skaapvleispryse, word op dié stadium ondersteun deur hoë invoerpryse. Op dié manier bevoordeel die Amerikaans-Chinese handelsoorlog die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf onregstreeks.

Op lang termyn presteer rooivleispryse beter as wildsvleispryse. Die pryse van wildsvleis het tot 2016 stewig gebly, waarna dit drasties begin daal het. “In dieselfde tyd het rooivleispryse ’n redelik konstante pryslyn gehandhaaf.”

Wat die plaaslike ekonomie betref, sê Lemmer daar word verwag dat die ekonomie met 1,7% in 2020 kan groei, teenoor die geprojekteerde groei van 0,6% vanjaar en die swak 0,8% groei van 2018.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.