Mnr. Rossouw Cillie, beskermheer van Landbouskrywers SA en voorsitter van die ProAgri-groep, sê dit was verstommend hoe gou en doeltreffend almal in die landbou begin saamstaan en planne beraam het toe die Covid-19-bom gebars het.

Hy het op ’n virtuele geleentheid waar Landbouskrywers SA hulde gebring het aan al die helde van die landbou, gesê Covid-19 het van die landbou op ’n sekere manier ’n eenheid gemaak. Die geleentheid is aangebied in stede van Landbouskrywers se jaarlikse Boer van die Jaar-eerbewyse.

“Dit was nog altyd vir my ’n groot wens dat die landbou eendag ’n eenheid kan wees en uit dieselfde mond praat. Met die virus wat gekom het, moes almal ondanks taal, politiek of kleur vinnig begin saamstaan om sukses te behaal. Ek dink die landboumedia het ook ’n ongelooflike rol gespeel om mense ingelig te hou en op die hoogte te bring.

“My boodskap vir vanjaar en volgende jaar aan die landbou is dat die mensdom ons nodig het. Hulle moet eet en daar moet kos wees. Ons moet optimisties wees en gaan kyk watter geleenthede ons hieruit kan haal. As jy wil groei in die landbou, moet jy kan verander en nie bang wees vir dit wat gebeur het nie. Die landbou is eintlik al deur baie Covid-situasies soos wisselkoerse, rentekoerse, oorstromings, droogtes en talle ander rampe.”

landbouskrywers mobi site
Skermgreep: https://eventapp.co.za/agri/

In ’n gesprek oor opvolgbeplanning binne familieboerderye het mnr. Kobus Steenekamp, kommersiële hoof van Bayer, gesê daar rus ’n groot verantwoordelikheid op die ouer geslag boere om kennis oor te dra na die jonger geslag sodat hulle toegerus is om oor te neem. “Ongelukkig kry ’n mens baie keer die situasie dat die pa die hoofbesluitnemer en onderhandelaar is en die seun buite in die veld werk. My raad is om die seun op ’n vroeër stadium te betrek, al is hy net ’n waarnemer en nie ’n direkte deelnemer nie.”

Mnr. Theo Vorster van Galileo Capital wat betrokke was by ’n boek oor die onderwerp, het gesê familiebesighede is van die suksesvolste sakekonsepte ter wêreld – nie net binne die landbou nie, maar ook ander ondernemings. “Dit is van deurslaggewende belang vir Suid-Afrika om seker te maak daar is groot, suksesvolle, kommersiële boerderye wat oor geslagte heen sal oorleef. Daar is egter nie een enkele oplossing vir ’n suksevolle familieboerdery nie. Dit word bepaal deur die familie se vereistes en visie.”

Volgens hom verg dit beplanning oor baie jare vorentoe as die besigheid oor geslagte heen wil oorleef. “Geen boerdery kan so vinnig groei as ’n familie nie. As daar oor drie geslagte elke keer net drie kinders is, is daar in die derde geslag reeds 81 mense betrokke.” Daarom verg dit deeglike vooruitbeplanning om die onderneming reg te struktureer.

Tydens die geleentheid is verskeie pryse aan landbouskrywers oorhandig. In heelparty kategorieë het Landbouweekblad skoonskip gemaak. Die wenners in die onderskeie kategorieë was:

CropLife SA – beste artikel oor gewasbeskerming: Gerrit Bezuidenhout

CropLife SA – beste bydrae oor biotegnologie: Carin Venter

FNB – Kommunikator van die jaar:

Gedrukte media: Charl van Rooyen

TV en Oudio: Lise Roberts

Sosiale media en aanlyn: Ronel Botha

BKF-fotokompetisie:

Landboufotograaf van die Jaar: Willem van der Berg

Landboufoto van die Jaar: Willem van der Berg

Bayer – beste tegniese artikels:

1ste prys: Gerrit Bezuidenhout

2de prys: Gerrit Bezuidenhout

3de prys: Fredalette Uys

Santam – beste dekking van Boer van die Jaar: Charl van Rooyen

Landbouskrywer SA- spesiale eerbewys:

Charl van Rooyen. Die eerbewys is as waardering vir die passie waarmee hy al 30 jaar by die vereniging betrokke is – op plaaslike en internasionale vlak.

Landbouskrywers SA se geleentheid is geborg deur Bayer, Santam Landbou en Health Squared Agility Agri.