Roullier het al ’n jaar gelede die koop-aanbod gemaak. Roullier en sy filiaal Vitas Suid-Afrika, wat plaaslik as Timac Agro handel dryf, sê die terugtrek van die aanbod ná ’n jaar se onverpoosde onderhandelinge is weens “onoorkombare probleme ten opsigte van die nakoming van die voorwaardes van die transaksie.”

Die sperdatum vir die finalisering van die transaksie kon nie opnuut uitgestel word nie omdat vereiste mylpale in die samesprekings nie bereik kon word nie, sê mnr. Jandré van der Westhuizen van Timac in ’n verklaring. Hy benadruk nogtans dat Timac en Roullier, wat in plant- en dierevoeding spesialiseer, hier is om te bly.

Net die afgelope jaar het hulle beleggings ter waarde van R250 miljoen in die Suid-Afrikaanse bedryf gemaak, en 81 Suid-Afrikaanse werknemers aangestel, sê hy. Hoewel Profert nou nie meer deel van die plan is nie, is Roullier steeds daartoe verbind om sy plaaslike sakebelange te vergroot en die maatskappy oorweeg nou ander geleenthede.

“Roullier beskou Suid-Afrika steeds as ’n hoof-fokuspunt vir uitbreiding,” sê Van der Westhuizen.

TOEWYDING

Hy het ook mnr. Bennie van Rooy, finansiële hoof van die Land Bank, bedank vir sy toewyding en harde werk die afgelope jaar in hul gesamentlike pogings om die transaksie af te handel. Die Land Bank is saam met ’n Chinese maatskappy een van twee aandeelhouers in Profert.

Die aandeelhouers moes glo al honderdmiljoene rand bestee aan ’n reddingsboei vir die kunsmismaatskappy, wat eens op twee na Suid-Afrika se grootste was. Sedertdien is hoog en laag na ’n koper gesoek om Profert se finansiële bootjie weer te laat vaar.

Die voorgenome transaksie tussen Roullier en Profert, wat in September vanjaar deur die Mededingingskommissie goedgekeur is, het onder meer behels dat die Land Bank 19% se aandele in Vitas Suid-Afrika sou opneem.

Van Rooy het by navraag gesê Roullier se terugtrek van die samesmeltingsplan maak geen verskil aan die Land Bank se voortgesette finansiële steun aan Profert nie.

Die soektog na ’n ander koper en transaksie sal voortgesit word, wat werksekerheid vir Profert se meer as 100 werknemers sal verseker.