Die nasionale RPO verwelkom enige handelsmerk in die rooivleisbedryf, aangesien dit die verbruiker meer keuses bied. Dit is egter belangrik dat produsente finansieel vergoed word vir spesifieke rooivleisprodukte waarop sekere aansprake gemaak word.

Só sê mnr. Lardus van Zyl, voorsitter van die nasionale RPO in reaksie  op Woolworths se verklaring dat die kettinggroep skaapvleis met ’n "vriendelik teenoor wild"-etiket beskikbaar gaan stel. Hy sê in die rooivleisbedryf is verskeie ander voorbeelde van spesifieke handelsmerke waar sekere aansprake ook gemaak word.

Definisies vir die aansprake word binne die bedryf omskryf en binne die Wet op Landbouprodukstandaarde bestuur. Die spesifieke handelsmerk van Woolworths behoort op dieselfde manier bestuur te word en die ouditering van die stelsel behoort deur Samic, (die SA Vleisbedryfsmaatskappy) bestuur te word.

Van Zyl het verder gesê die RPO is ongelukkig met die stelling wat deur mnr. Justin Smith van Woolworths gemaak is dat die grootste hoeveelheid jakkalse met gif, slagysters en vanghokke beheer word.

“Die RPO het verlede jaar weer sy Kode vir Beste Praktyk bygewerk en in die gedeelte oor roofdierbestuur word boere aangemoedig om die nie-dodelike beheermetodes te gebruik. Die onwettige gebruik van gif word ook ten sterkste deur die RPO afgekeur.”

Die publiek moet verder kennis neem dat ongeveer ‘n miljoen lammers per jaar deur jakkalse en rooikatte vermink en lewendig opgevreet word. Die probleem is dat die natuurlike vyand van jakkalse en rooikatte uitgewis is, aldus die RPO.