Sowat 30% van die sap wat deur Rugani vervaardig word, word reeds uitgevoer. Die afgelope 12 maande het produksie met 118% gegroei.

“Van ons bestemmings sluit in New York en Los Angeles in Amerika, die Midde-Ooste, verskeie lande in Afrika en dan is daar op die oomblik ’n eerste besending op pad na Japan toe,” sê Rugani. “Ons verwag dat uitvoer plaaslike verbruik sal verbysteek.”

Hy en sy vennoot, mnr. Vincent Sequeira, het die versappingsaanleg sowat twee jaar gelede by hul Greenway Farms by Tarlton begin. Dit is die enigste aanleg vir wortelsap in die Suidelike Halfrond en die ontwerp is ook wêreldwyd uniek. Waar ander bestaande aanlegte ontwerp is om ’n konsentraat van sap te maak waarby later water, ander sappe of middels gevoeg word, word hier ’n onttrekkingsproses in ’n steriele omgewing gebruik met suiwer sap wat in die houer verseël word. 

Die versappingsaanleg is ook geskik om ander groente en vrugte op dieselfde grondslag te verwerk. Van die ander produkte is pynappel, beet, wortel-en-pynappel, wortel-en-gemmer en Romanita-kersietamaties saam met die tamatieprodusent ZZ2.

“In Afrika-lande vaar beet byvoorbeeld baie goed. In Zambië is 40% van die verkope beetsap,” sê Rugani. Binne die volgende paar maande gaan daar ook ’n beetsap op die mark wees wat met ’n zobo-blom (’n tipe hibiskus) gegeur sal word.

Rugani sê nog nuwe geure wat binne maande op die mark sal wees, is wortelsap met borrie en dan ook ’n groen sap bestaande uit komkommer, pynappel, seldery, gemmer en moringa-blare.

“Vir volgende jaar werk ons aan sap van patats en ook appelsap met sy eie oesjaar. Die appels word vir ’n tydperk van twee weke ryp van die bome gepluk, dadelik versap en dan is die spesifieke oesjaar verby.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.