Altesaam 326 inwoners van Klapmuts, Kayamandi en Kylemore rondom Stellenbosch het titelaktes ontvang danksy ’n borgskap van die sakeman dr. Johann Rupert en sy vrou, Gaynor. Die egpaar het ingewillig om altesaam 10 000 titelaktes aan Suid-Afrikaners te borg. Mnr. Jannie du Randt, Rupert se vriend en uitvoerende hoof van Remgro, het onlangs aangekondig dat hy ook die oordrag van 10 000 titelaktes gaan borg.

Volgens mnr. Perry Feldman, bestuurder van Khaya Lam (wat “my huis” beteken), ’n projek deur die Vryemarkstigting, kos dit R2 250 om ’n titelakte te borg. Sedert September 2014 is ongeveer 3 360 titelaktes aan Suid-Afrikaners oorgedra.

“Hierdie skenking het ons grafieke van die papier af laat skiet!” het hy oorstelp gesê.

Die oudste mens wat ’n titelakte ontvang het, is 97 jaar oud. Die naasoudste, mnr. James Mzalwana (89), was sy lewe lank ’n vragmotorbestuurder. Hy woon al die afgelope 20 jaar in sy huis in Closestraat, Kayamandi.

“Ek voel vandag baie pragtig en gelukkig. Ek sukkel al amper 20 jaar om my huis myne te kan noem. Nou kan niemand hom by my kry nie,” het hy gesê.

‘Nie ’n skenking’

Rupert het benadruk dat dit nie skenkings is nie, maar bloot ’n bewys dat dit waaraan mense jare lank gebou het, aan hulle behoort.

“U kry nou net eintlik waarop u al die jare geregtig was. My ma, soos my pa, het in die Depressie grootgeword. Sy moes karton in haar skoene sit, want daar was nie geld om die gate reg te maak nie. Sy het gespaar tot sy ouer as tagtig was. Sy het ons een ding geleer, en dis om te deel,” het hy gesê.

Mnr. Leon Louw, uitvoerende direkteur van die Vryemarkstigting, sê mense het as huurders by die Stellenbosse stadsaal opgedaag, maar hulle gaan terug as huiseienaars.

“Dis mense wat as huurders op staatsgrond bly, sonder sekuriteit of iets om aan hul kinders na te laat. Hulle kan enige tyd uitgesit word. Vir hulle het alles vandag verander. In sommige gevalle stap mense hier uit as eienaars van eiendomme wat baie geld werd is.”

Louw het die Peruviaanse ekonoom Hernando de Soto aangehaal en na arm mense se bates as “dooie kapitaal” verwys.

“Vandag omskep ons die dooie kapitaal in lewende, dinamiese kapitaal. Dit gaan ook oor menswaardigheid. Toe mense in Rio de Janeiro se informele nedersettings (favelas) titelaktes gekry het, kon mens sien hoe hul houding teenoor die lewe verander. Pleks daarvan om met ’n bottel brandewyn huis toe te gaan, het hulle met ’n blik verf huis toe gegaan. Hulle het ’n langtermynvisie ingeneem. Ons sien ook reg oor Suid-Afrika dat mense, binne dae nadat hulle die titelaktes gekry het, hul huise begin opknap.”

Rupert het die ontvangers gewaarsku teen “mikroleners en meubelmaatskappye wat soos parasiete gaan opdaag” om goedere aan hulle te verkoop sonder om die ware koste daarvan te verduidelik. “Moenie nou gaan leen by mense wat julle wil verkul nie.”