Hy het op ’n FNB Landbou-vooruitskouingsgeleentheid gesê syfers toon ’n groot waarskynlikheid dat ryp die opbrengs kan beïnvloed.

Hy het grafieke getoon waarin mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, die waarskynlikheid van verskillende rypintensiteite vir die distrikte Bothaville en Lichtenburg bereken het.

Mielies het 120 tot 150 dae nodig om volwassenheid te bereik, en op grond van wanneer boere in dié twee gebiede geplant het, is dag 120 op 30 April.

Die moontlikheid van ligte ryp in die distrik Bothaville is dan na raming 89%, middelmatige swaar ryp 45% en swaar ryp 28%. In Mei styg die waarskynlikheid vir middelmatige en swaar ryp skerp.

In die distrik Lichtenburg is die waarskynlikheid vir ligte ryp op 30 April na raming 45%, middelmatige swaar ryp 16%, maar swaar ryp nog 0%.

Al drie waarskynlikhede styg egter deurlopend in Mei en die waarskynlikhede vir middelmatige en swaar ryp nog verder in Junie. Vir boere in dié gebiede wat reeds moeilike jare agter die rug het, is dit nie ’n goeie vooruitsig nie, sê De Villiers.

Kontantvloei

Hy het gesê die buro vir voedsel- en landboubeleid se projeksie van Noordwes-boere se kontantvloei toon dat hulle al vanaf 2014 in die rooi beweeg het. Vir dié boere gaan een goeie seisoen nie genoeg wees nie.

In die Noord-Vrystaat was boere se kontantvloei in 2015-’16 negatief, waarna dit verbeter het, maar weer versleg het in die huidige seisoen. ’n Baie goeie volgende seisoen kan hulle weer in die groen bring.

De Villiers het gesê graanboere se winsgewendheid is onder groot druk.

“Dit is waarskynlik ’n groter risiko as wat grondhervorming nou is.”

As die staat oesversekering sou subsideer, sal dit boere se risiko verminder. Versekeraars is reeds huiwerig om oeste in die weste van die land te verseker. ’n Voorstel hieroor van die Nasionale Landboubemarkingsraad se droogtekomitee is deur die Suid-Afrikaanse vereniging van versekeraars (SAIA) aan die Parlement voorgelê.

De Villiers sê in Amerika word 50% van ’n boer se premie vir oesversekering gesubsideer en boere neem versekering vir sowat 85% van die oes uit.

Eenvoudig

Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB, het gesê dit bekommer hom hoe lank dit neem om kwessies soos oesversekering, beter paaie en spoorweë op te los.

“Dit is die eenvoudige goed wat gedoen kan word.”

Vir die bankwese is gesubsideerde oesversekering ook baie belangrik om sy risiko’s te versag, en banke is dus deel van die gesprek met SAIA, het Mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, gesê.

Die druk waaronder baie graanboere verkeer, sal waarskynlik tot verdere konsolidasie lei, maar volgens Maree is konsolidasie ook ’n internasionale neiging.