“Die afgelope somer se goeie reën het bygedra tot goeie veld- en groeitoestande. Die veld en veral hoë gras langs die paaie hou egter ’n brandgevaar in,” waarsku hy. “Sanral het aangedui dat sy kontrakteurs eers vanaf 14 Mei die gras sal begin sny nadat dit behoorlik geryp het.”

VL moedig daarom brandbeskermingsverenigings aan om hul strukture en toerusting gereed te kry om enige brand te kan help beveg.

Gewasse

Volgens Armour het die reën wat gedurende Desember en Januarie in groot dele van die Vrystaat voorgekom en in sommige dele tot vloedskade gelei het, ’n groot invloed op boere se aanplantings gehad. Talle boere se aanvanklike aanplantings het verspoel en moes oorgeplant word. Dit het ’n groot finansiële impak op boere. Indien dit dus te vroeg ryp en die laat aanplantings kry skade, sal dit vir talle boere ’n groot slag wees.

Mnr. Kempen Nel, VL-streeksverteenwoordiger, sê boere in die distrik Jacobsdal hoop vir nog drie weke grasie teen die winterkoue sodat gesaaides droog genoeg kan word om te oes.

Volgens mnr. Johan Fourie, ook ’n VL-streekverteenwoordiger, het nagtemperature in laaggeleë dele van Dewetsdorp, Wepener en Van Stadensrus gedaal. Aanplantings toon op dié stadium nie skade nie.