Sprinkaaneiers kan in droogtetye jare lank ophoop en dan skielik almal gelyk uitbroei as die toestande reg is. En die toestande is uiters gunstig, sê dr. Gerhard Verdoorn, gifkenner gemoeid met CropLife SA, die bedryfsliggaam vir die plantbeskermingsbedryf.

“Ek het lankal vir boere gesê hier kom ’n ding, ek is nie verbaas dat dit in Botswana uitgebreek het nie. Die sprinkaanplae breek mos nie elke jaar uit nie, maar as die grondvog, grondtemperatuur en lugvog ’n bepaalde waarde bereik, broei hulle uit en dan het jy ’n chaos as jy dit nie betyds kan bestry nie.”

Verdoorn het boere gerusgestel dat die department van landbou voorbereid is op enige moontlike uitbrekings en dat die drie maatskappye wat die spesifieke gifstof verskaf waarmee swerms bestry word, voldoende voorraad het.

Volgens me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het die department van landbou haar verseker dat ’n opname gedoen is oor die beskikbaarheid van spuitstof in die Noord-Kaap. “Daar is genoeg in die Noord-Kaapse pakhuise.”

Rooibaadjies

Verdoorn vra dat boere en hul werkers in die Karoo daagliks die veld vir rooibaadjies moet monitor en dit aanmeld. Rooibaadjies is een van die name wat gebruik word vir sprinkane wat nog in die voetgangerstadium is.

“As die sprinkane net uitgebroei het, is hulle vir ’n dag of drie rooi. Mense verwar hulle soms met rooimiere.”

Dis die stadium waarin dit die maklikste is om dié plaag te bestry, met die minste impak op die omgewing. As hulle eers vlerke ontwikkel het, is die swerms baie groter en word enorme hoeveelhede gifstof benodig.

“Ons wil nie hê die insekte moet begin swerm nie, ons wil hulle net daar op die plek bekamp. Ons kan nie bekostig dat hulle nou die Karoo beskadig wat pas deur die kwaaiste droogte in 116 jaar is nie. Ons wil ook nie hê die sprinkane moet begin vlieg en uitkom by die mieliegebiede in die Noord-Kaap en Noordwes nie.”

Die department van landbou in Botswana het op 18 Februarie ’n omsendbrief uitgereik waarin boere gewaarsku word dat ’n uitbreking in Ngamiland in die noordweste van Botswana opgemerk is. Botswana is die eerste land in Suider-Afrika wat amptelik ’n uitbreking aangemeld het.

Lande in Oos-Afrika moes die afgelope maande alles in die stryd werp teen ’n sprinkaanplaag wat as die ergste in 70 jaar beskou word met reuse-swerms wat alle plantegroei op hul trekpad opvreet en ’n reeds weerlose streek tot hongersnood kan dwing. Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) is die grootste swerms nou in Kenia, Somalië en Ethiopië met kleiner uitbrekings in hul buurlande.

VN-amptenare waarsku dat onmiddellike stappe gedoen moet word voor reën in Oos-Afrika in die volgende weke weer voorkom en vars plantegroei ’n volgende vlaag sprinkane kan voed.

* Verdoorn vra boere wat enige sprinkaan-aktiwiteit gewaar om vir hom ’n WhatsApp met besonderhede saam met ’n foto van die sprinkane by 082 446 8946 te stuur.