Die Pandamatenga-landboublok beslaan ongeveer 45 000 hektaar. Daar maak meer as 30 Suid-Afrikaanse boere ’n bestaan uit sorghum, bone en sonneblomme.

Botswana is in talle opsigte ’n suksesstorie. Die politiek is stabiel, daar is min korrupsie en die landbousektor vaar vrek goed. In skrille kontras met ander Afrikalande word meer as 90%, of 298 000 hektaar, van Botswana se beskikbare landbougrond (325 000 hektaar) doeltreffend gebruik. Onthou, Botswana is in die algemeen ’n baie droë land.

Navorsing het gewys dat droëlandboerdery die enigste manier is om by Pandamatenga kommersieel te boer. Die swart leemgrond daar wil nie besproei word nie. Die reën is genoeg – soms te veel. Dan spoel alles weg op daardie plat stuk aarde. ’n Paar dae voor ons daar deur is, het dit 150 mm binne ’n uur gereën en die water het behoorlik geloop.

Die sukses van hierdie klomp manne en vroue het daartoe gelei dat die gebied bekend staan as Botswana se broodmandjie. Die Pandamatenga-boere voorsien na raming in 80% van die land se voedselaanvraag.

Goeie opbrengste, baie hulp

Met ’n jaarlikse reënval van 600 mm haal daardie boere twee keer meer van die lande af as die gemiddelde nasionale opbrengs. Sorghumsaad van Australië af gee ’n opbrengs van 4-5 t/ha. ’n Soedannese kultivar lewer tot 6t/ha. Botswana-boere wat volgens tradisionele metodes boer, oes slegs 0,25-0,5 t/ha.

Botswana se regering doen baie om die boere op die grond te hou met groot subsidies en skadeversekering, soos ’n 30 %-subsidie op kunsmis, saad en sekere chemikalieë. En as daar vloed- of droogteskade is, betaal hy boere se oeste amper volledig uit.

Die een probleem

Hoewel die Pandamatenga-blok met wildheinings afgekamp is, werk Botswana se wild nie altyd saam nie. Die olifante, koedoes en elande pla behoorlik. Dié probleem word vererger deur die moratorium op jag.

Een manier om die probleem te bekamp, is om die diere te vang en na ander gebiede, waar boerdery nie plaasvind nie, te verskuif. Nog ’n plan is om genoeg watergate vir die diere te voorsien om hulle na ander gebiede te lok en daar te hou.

Die boeregemeenskap moet egter self die koste van dié inisiatiewe dra. Jurie van der Walt is ’n oud-joernalis wat tans ’n heuningbosteeprojek in die Langkloof bedryf. Hy was einde verlede jaar deel van ’n safarigroep wat 5 500 km deur Botswana, die Caprivi en Zambië gereis het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.