Die geleenthede wat dié mark bied, asook die vereistes om deel daarvan te word, is op Dinsdag 19 Februarie met onder meer opkomende boere en ander belanghebbendes tydens ’n werksessie by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum bespreek. Die werksessie is deur die African Farmers’ Association (Afasa) aangebied.

Europese verbruikers se voorkeur vir organiese landbouprodukte wat op ’n volhoubare manier verbou is, is een van die grootste internasionale neigings in die varsproduktebedryf. Dit is ook tydens die werksessies aangebied as die grootste dryfveer agter die hoë standaarde wat van vervaardigers verwag word wanneer hulle produkte na die EU wil uitvoer.

Luidens ’n inligtingsdokument, saamgestel deur Outreach South Africa – ’n inisiatief wat inligting verskaf oor die vereistes en voordele van die handelsooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die EU – is klimaatsverandering, biodiversiteit, regverdige indiensnemingspraktyke, en die interaksie tussen mense en die omgewing se invloed op volhoubaarheid ook faktore wat verbruikers in ontwikkelde lande in ag neem wanneer hulle hul inkopies gaan doen.

Die handelsooreenkoms tussen die EU en die SAOG bepaal dat geen of slegs gedeeltelike doeanebelasting gehef word op 98,7% van die landbouprodukte wat Suid-Afrika na die EU uitvoer. Die EU is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot. Na raming word 26% van Suid-Afrikaanse handel met die EU gedryf.

Afrika was in 2015 die tweede grootste uitvoerder van organiese produkte met ’n 35%-bydrae tot die totale uitvoer. Die EU is die tweede grootste mark vir organiese produkte. Van 2016 tot 2017 het Suid-Afrika se uitvoer na die EU met 7,9% toegeneem. Wat landbouprodukte betref, het Suid-Afrika ’n handelsurplus van €1 miljard met die EU. Altesaam 64% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer na die EU is vrugte en neute. Die sitrusbedryf lewer 25% van Suid-Afrika se totale uitvoer na die EU.  

Gebrek aan regulasies

Dr. Vuyo Mathlati, voorsitter van Afasa, sê ’n aantal kommissies beraam reeds planne om Suid-Afrika se landboubedryf in pas met die vereistes van die EU-mark te bring. Sy het tydens haar aanbieding op die werksessie gesê die SAOG se handelsooreenkoms met die EU konsentreer nie net op ontwikkeling as sodanig nie, maar eerder op volhoubare ontwikkeling wat die dryf van handel met die EU sal bevorder. Sy het ook gesê dat die ooreenkoms nie net swart boere wil help nie – daar word beoog om ’n beter Suid-Afrika vir almal te skep.

Die grootste kwelpunt, luidens Outreach South Africa se inligtingsdokument, is dat organiese produkte nie deurlopend geproduseer word nie. Hoewel organiese produkte op Suid-Afrikaanse winkelrakke gevind kan word, is die aanbod wisselvallig en nie groot genoeg om in die vraag daarna te voorsien nie. Die gebrek aan regulasies rondom die etikettering van produkte wat as “organies” bemark word, asook die hoë standaarde waaraan die produkte moet voldoen, is nog ’n probleem.

Suid-Afrika het egter vordering gemaak om regverdige en etiese handelspraktyke in die landboubedryf toe te pas danksy die private sektor wat self inisiatief geneem en ’n raamwerk daarvoor geskep het.

Een van die mees noemenswaardige verwikkelinge in hierdie opsig is die vrugtebedryf se volhoubaarheidsinisitief vir Suid-Afrika (Siza) wat verseker dat aan die bepalings in plaaslike arbeidswetgewing, asook internasionale arbeidorganisasies se konvensies voldoen word. Die varsprodukte-uitvoerdersforum, die SA Sitruskwekersvereniging, Hortgro en die SA Tafeldruifbedryf is lede van Siza.

Etiese en omgewingsvriendelike praktyke

Suid-Afrikaanse wynmakers het reeds vir hulself naam gemaak met hul etiese en omgewingsvriendelike praktyke. Die etikettering wat aandui dat wyn aan die Wyn- en Spiritusraad se standaarde vir integriteit en volhoubaarheid voldoen, kan gevind word op 94% van Suid-Afrikaanse wynbottels wat uitgevoer word.

Nog ’n plaaslike insitiatief is die Suid-Afrikaanse volhoubare seekosinisiatief (SASSI), wat deelnemers aan die seekosbedryf oor volhoubare seekos inlig en opvoed. Fairtrade, die naam vir etiese produksie wat die belange en regte van boere bevorder, het in 2009 kantore in Suid-Afrika geopen. Dit is egter stil-stil in 2017 gesluit.

Hoewel hierdie ontwikkelinge as vordering vir die landboubedryf beskou word, word plaaslike produseerders aangemoedig om hul produkte aan die EU se regulasies rondom organiese produksie te meet wanneer hulle om die nodige sertifikasie wil aansoek doen. Sodoende sal hulle toegang kan kry tot die 28 verskillende markte en 500 miljoen verbruikers wat in die EU wag.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.