Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het sy steun aan sy Namibiese eweknie toegesê vir dié se oproep tot drastiese stappe daarteen.

“Ons bure noord se hoenderbedryf is klein vergeleke met ons s’n en is selfs meer weerloos teen die verwoestende gevolge van onbeheerde storting,” sê die SAPV in ’n verklaring.

Volgens die organisasie het ervaring in Suid-Afrika getoon dat sulke invoer tot werkverliese lei.

Die SAPV sê die Brasiliaanse invoer kan die belegging wat Namibië ses jaar gelede in sy bedryf gemaak het, in reaksie op ’n groei in die vraag na hoendervleis en met die doel om die bedryf uit te brei en ontwikkel, ongedaan maak.

Die SAPV sê ook gestorte invoer het in ander Afrikalande die plaaslike hoenderbedrywe uitgewis. “Ons glo dit het tyd geword dat Suider-Afrikaanse lande saamstaan teen die aanslag van Brasilië. Die land is een van die grootste uitvoerders van hoendervleis ter wêreld en spits hom op dié streek toe met grootmaatuitvoer van bruin vleis.”

Die SAPV sê dit is toenemend duidelik dat Suider-Afrika nou in die visier is van uitvoerders wat markte vir hoenderagterkwarte soek, wat ’n neweproduk van hul winsgewende borsvleisuitvoer na Amerika en Europa is.

Die SAPV het die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) gevra om die invoertarief op onder meer stukke aan die been tot 82% te verhoog. As dié tarief toegestaan word, sal dit Suid-Afrikaanse produsente volgens die organisasie ’n blaaskans gee, terwyl die bedryf saam met die regering aan ’n meesterplan vir transformasie en groei werk.

Die SAPV sê ook dit sal goed wees as die Afrika-unie ’n formele strategie opstel en ’n Afrika-pluimveeprodusenteorganisasie finansier om alle pogings te konsolideer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.