Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sê hulle is tans onseker oor hoe die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) die tydelike opskorting van die land se bek-en-klouseervrye status gaan hanteer. ’n Paneel van verteenwoordigers van die betrokke nasionale en provinsiale departemente het die media op Louis Trichardt oor die kwessie te woord gestaan.

’n Span veeartsenykundiges is tans in die veld by Sundani in die distrik Vhembe waar monsters van twee beeste positief getoets is vir bek-en-klouseer. “Ons het die afgelope paar dae so deeglik moontlik in die gemeenskappe gekommunikeer dat die siekte uitgebreek het en dat hulle enige vee wat mank loop, lusteloos voorkom, sere aan hul pote of bekke het en/of sukkel om te eet, moet aanmeld,” sê dr. Botlhe Modisane, tegniese woordvoerder oor bek-en-klouseer.

“Die mense het gehoor gegee en ons het nou al baie kilometers gery en baie monsters geneem en getoets. Nog geen verdere diere het positief getoets nie.” Modisane sê hoewel daar die afgelope ses maande baie gedoen is om te verhoed dat die siekte oor die Zimbabwe-grens en die beheersone na Suid-Afrika se vrye sone versprei, blyk dit nou dat die stam van bek-en-klouseer waarvoor die twee beeste positief getoets is, dié is wat onder buffels in die Kruger-wildtuin voorkom.

Beweging van diere

Die area tussen die R81, die R36, die N1 en R524 is tot siektebeheergebied verklaar en geen verskuiwing van diere met gesplete hoewe sal ná óf ván hierdie area toegelaat word nie, sê me. Jacqueline Maisela, hoof van Limpopo se departement van landbou en landelike ontwikkeling. Beweging binne die gebied is toelaatbaar.

“Ons ontmoedig mense ook om sulke diere óf hul onverwerkte produkte uit die distrikte Mopani en Vhembe, asook die distrik Capricon in die Molemole-munisipale gebied, te verskuif,” sê Maisela.

Dr. Mpho Maja, nasionale direkteur vir dieregesondheid in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê die versoek om nie vee uit hierdie drie distrikte te verskuif nie, is nie in hierdie stadium afdwingbaar nie, maar eerder ’n versoek tot samewerking deur boere en die publiek.

Die veeartsenykundige afdeling van dié departement doen ’n beroep op alle boere in Suid-Afrika om streng biosekuriteitsmaatreëls te volg. Hulle moet liefs ook nie nuwe diere in hul kuddes toelaat nie en die verskuiwing van hul eie diere na ander plase beperk.

“Ons vra dat boere, gemeenskappe én die veebedryf die maatreëls wat nou in plek is sal respekteer en gehoorsaam sodat ons die siekte so gou moontlik onder beheer kry en die situasie na normaal kan terugkeer,” sê Maisela.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.