Só het mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van Subtrop, gesê op ’n onlangse webinaar van die produsentemarkagentskap PMA en Beanstalk Global, die internasionale skakelingsmaatskappy vir die varsproduktebedryf.

Donkin en Suid-Afrikaanse produsente is egter hoopvol dat Suid-Afrika marktoegang vir sy avokado’s sal kry tot Oosterse lande, soos China en Indië. Al die regte bestanddele vir ’n groeiende uitvoermark is daar. Donkin het onder meer verwys na die streek se groeiende middelklas met meer besteebare inkomste.

Me. Lindie Stroebel, bestuurder by Mission Produce vir Suider-Afrika, het ook aan die gesprek deelgeneem en gesê dat dié maatskappy reeds avokado’s uit ander lande met marktoegang na China uitvoer.

Nuwe verbruikers

Wat haar betref is Asië ’n onontginde mark met duisende potensiële verbruikers wat nog nooit in hul lewens ’n avokado gesien of geproe het nie. “Mense daar leer nog avokado’s eet. Soos hulle gewoond raak aan die produk en gewoond raak aan die verbruiksmetodes en voedingswaarde daarvan, gaan die vraag net toeneem. Daar is dus potensiaal vir Suid-Afrika om in daardie markte in te beweeg,” het sy gesê.

Geografies is Suid-Afrika goed geleë vir uitvoer na China. Die land is heelwat nader aan daardie land as Peru, sy grootste mededinger in die Suidelike Halfrond.

Stroebel het vertel hoe Mission Fruit reeds jare gelede aanvoorwerk onder Chinese vir avokado’s begin doen het. “Dit is nie ’n maklike mark nie,” het sy gesê. “Tien jaar gelede het mense daar nie eens geweet wat ’n avokado is nie.”

Die Chinese mark se avokadoverbruik het sedert 2014 met 1 000% toegeneem. Tog is die verbruik nou net omtrent 40 g per kop per jaar, want ’n groot deel van China se mense het nog nie met avokado te doen gehad nie.  In Amerika is die verbruik 4 kg avokado per kop per jaar. “As ons dít in China kan bewerkstellig, is daar nie naastenby genoeg avokado’s om in die vraag te voorsien nie,” het Stroebel gesê.

Groei potensiaal

Al die plaaslike bedryf se hoop is egter nie net op die Ooste gevestig nie. Kenners meen daar kan baie gedoen word om bestaande uitvoermarkte uit te bou. Duitsland se avokadoverbruik het byvoorbeeld verlede jaar met 21% toegeneem en Nederland s’n met 16%. Mnr. Roger Armitage, uitvoerende hoof van Halls Fresh Produce, het gesê: “Voorspellings is dat die Europese Unie dalk nog ’n groter mark as Amerika kan word. Europese verbruik is tans ’n derde van die Amerikaanse verbruik per kop.”

Mnr. Trevor Dukes, plaaslike bestuurder van die Belgiese Fruit Farm Group, het bygevoeg dat Suid-Afrikaanse produsente prysdruk in ’n mededingende Europese mark kan teenwerk deur tegnologie en beter landboupraktyke in te span vir beter opbrengste. Die gemiddelde opbrengs van 10 ton per ha kan verbeter word tot 20 ton per ha.

Byna die helfte van vanjaar se 66 000 ton avokado’s sal vars uitgevoer word na Europa, Brittanje en Rusland. Tot 12% word vir olie en guacamole verwerk en die res word plaaslik verkoop.

Dukes sê daar kan nog baie groei op die plaaslike mark bewerkstellig word, waar die meeste vrugte op die informele mark verkoop word.