Die Britse parlement het ’n tweede keer die onttrekkingsooreenkoms afgekeur en moes teen druktyd stem of hy die EU vir ’n verlenging gaan vra sodat hy nie op 29 Maart sonder ’n ooreenkoms die EU verlaat nie. Die EU moet dan besluit of hy die verlenging gaan toestaan of nie.

Intussen het die Britse regering aangekondig dat die meeste van sy invoer tariefvry sal wees indien die land die EU sonder ’n ooreenkoms verlaat. Onder die tydelike skema sal 87% van ingevoerde produkte (soos druiwe en sitrus) tariefvry wees. Tans is 80% van dié invoer tariefvry.

Tariewe geld egter steeds om sekere bedrywe te beskerm, onder meer die landbou. Rooivleis, hoendervleis en sommige melkprodukte sal beskerming geniet.

In 2016 het die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) ’n ekonomiese vennootskapsooreenkoms (EVO) met die EU gesluit. Daarmee is onder meer marktoegang vir verskeie landbouprodukte bekom. Indien Brittanje van die EU onttrek sonder ’n ooreenkoms, is die EVO nie meer op hom van toepassing nie.

oorbrugging

Daarom, om enige handelsontwrigting met Brittanje te voorkom, het Sadu en Brittanje besluit om die EVO “voort te sit” as ’n alleenstaande handelsooreenkoms. Dié alleenstaande handelsooreenkoms moet teen 29 Maart bekragtig word en die uitvoerbelasting sal onderhewig wees aan die tydelike tariefskema wat Brittanje op 13 Maart bekend gemaak het.

Daar is gehoop dat Sadu en Brittanje op 15 Maart die alleenstaande ooreenkoms sou afhandel. Suid-Afrika sal die ooreenkoms in die Parlement moet bekragtig. Indien hulle dit nie regkry om die alleenstaande ooreenkoms voor die sluiting van die Parlement op 20 Maart te bekragtig nie, kan onderhandelinge voortduur en ’n memorandum van verstandhouding gesluit word as ’n “brug” indien Brittanje die EU op 29 Maart verlaat.

Die doel van die oorbruggingsooreenkoms is om te verseker dat handel met Brittanje vir ses maande voortgaan onder die EVO totdat Sadu, Mosambiek en Brittanje die alleenstaande ooreenkoms gesluit het. ’n Konsepdokument daarvoor is reeds ontwikkel en aan Brittanje gegee.

Die tweede terugvalscenario is dat handel voortduur ingevolge die voorlopige reëlings waar Brittanje vir 12 maande 87% invoer tariefvry gaan toelaat. Davies het uitgelig dat onder hierdie scenario wynmakers vir die volgende 12 maande rustig agteroor kan sit, want hul produkte sal tariefvry daarheen uitgevoer kan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.