Nuwe wetgewing sal egter opgestel moet word om die kommersialisering van hennep te bewerkstellig. Die departement het onderneem om die werk wat reeds deur belanghebbende departemente gedoen is, saam te voeg en só nuwe wetgewing gereed te kry, terwyl toegelaat word dat die ander bedrywighede in die daggabedryf kan voortgaan. Die produsente van hennep kry hul permitte van die reguleringsowerheid vir Suid-Afrikaanse gesondheidsprodukte (Sahpra). Wanneer die departement in die toekoms hierdie taak oorneem, sal die betrokke produsente se permitte oorgedra word sodat hulle nie benadeel word nie.

Mnr. Thabo Ramashala, wat aan die stuur is van die ontwikkeling van die meesterplan by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het hierdie inligting oorgedra op ’n webinaar van die Wes-Kaapse ontwikkelingsagentskap (Wesgro) waar gekyk is na die vordering met die regulasies vir dagga en hennep. Veranderinge is reeds gemaak aan die regulasies vir die Wet op Plantverbetering (Wet 53 van 1976) om hennep as ’n landbougewas te reguleer. Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het reeds die groen lig hiervoor gegee. Die regulasies sal verpligte registrasie van besighede, soos saadmaatskappye, kwekerye en laboratoriums, tot gevolg hê, asook die registrasie van variëteite in die land.

Daar word ook na die Wet op Planttelersregte (Wet 15 van 1976) gekyk sodat intellektuele eiendom beskerm kan word. Ramashala het gesê hierdie verandering sal nie toegepas word tot die wysigings aan die Wet op Dwelms en Dwelmhandel (Wet 140 van 1992) bekragtig is nie.

Private gebruik

Die departement van justisie en korrektiewe dienste het reeds die wetsontwerp vir die private gebruik van dagga by die parlement ingedien.  Hierdie wetsontwerp is genoodsaak nadat die Grondwethof die parlement in 2018 gelas het om die grondwetlike leemtes in die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels (Wet 101 van 1965) en die Wet op Dwelms en Dwelmhandel te wysig sodat volwassenes dagga in die privaatheid van hul huis mag kweek, besit en gebruik. Die verwantskap van hennep as ’n variëteit van dagga het tot verskeie beperkinge met die produksie van hennep gelei. Die grootskaalse kommersiële produksie van hennep word ook ingevolge die twee wette verbied.

Ramashala het gesê die vertraging met die wysiging aan die Wet op Dwelms en Dwelmhandel veroorsaak dat mense probleme ondervind om permitte vir hennep te bekom. “Ons het al verskeie kere met die direkteur-generaal van die departement van justisie vergader om oplossings te vind. Wanneer die wetsontwerp vir die private gebruik van dagga bekragtig word, sal dit hopelik sommige van die beperkings vir die daggabedryf ophef. Ons wil dagga in die wet as wettig verklaar hê.”

Kleinskaalse kwekers

Daar is talle onwettige, kleinskaalse kwekers van dagga in Suid-Afrika. Planne word reeds beraam om hierdie kwekers by die formele bedryf te betrek, en daar word gekyk watter ondersteuning aan hulle gebied kan word. In die meesterplan is daar ’n afdeling vir ondersteuningshulp. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die een vir kleinsake-ontwikkeling sal die ondersteuning koördineer.

Volgens Ramashala kan die finansiële ondersteuning toelaes en gemengde finansiering insluit. Tegniese ondersteuning sal ook gebied moet word omdat hierdie kwekers in verafgeleë gebiede is. ’n Sentrale verwerkingsaanleg sal opgerig moet word sodat hierdie produsente hul dagga of hennep daarheen kan neem vir verwerking. Hulle sal vergoed word vir die onverwerkte materiaal wat gelewer word. Indien geen maatreëls ingestel word om kleinskaalse kwekers te ondersteun nie, is die kans groot dat hulle uitgesluit sal bly, het Ramashala gesê.