Suid-Afrika is die negentiende land om die ooreenkoms vir 'n drieledige vryhandelsgebied (TFTA) in Afrika te sluit. Dié gebied behels 26 lande in drie ekonomiese streeksgemeenskappe: die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), Gemeenskaplike Mark vir Oos- en Suider-Afrika (Comesa), en die Oos-Afrikaanse Gemeenskap (EAC).

Mnr. Tinashe Kapuya, handelspesialis in agribesigheid by die USAID Southern African Trade and Investment Hub, sê die TFTA se gesamentlike waarde in landbouhandelsgeleenthede is R475 miljard. “Vir Suid-Afrikaanse boere behels die geleenthede die uitvoer van onder meer mielies (spesifiek nie-geneties gemodifiseerde mielies), durumkoring, koring en mengkoring (meslin), beesvleis, sojakoek, suiker, sojaboon-ru-olie, en appels.”

Makliker handel

Dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid wat die ooreenkoms namens Suid-Afrika geteken het, sê die TFTA is belangrik vir pogings tot vinniger streeksintegrasie om te verseker dat Afrika-lande met mekaar handel dryf. Die 26 betrokke lande het 'n gesamentlike bevolking van 625 miljoen en 'n totale bruto binnelandse produk van VSA$1,6 triljoen.

Davies sê die ooreenkoms sal kommersiële voordele vir sakelui bied deur dit moontlik te maak om teen 'n verlaagde of geen tarief met produkte tussen die SAOG- en EAC-lande handel te dryf. Dr. Francis Mangeni, Comesa se direkteur vir handel en doeane, het in 'n artikel op die webblad van die handelsregsentrum Tralac gesê Suid-Afrika se ondertekening is 'n deurbraak.

Dit volg nadat drie uitstaande bylaes tot die ooreenkoms, naamlik reëls oor oorsprong, handelsremedies en dispuutbeslegtiging, by 'n ministeriële vergadering aanvaar is.

Amper afgehandel

Die hoofooreenkoms is al twee jaar gelede geteken, maar sekere lande het gesê hulle gaan dit nie teken solank die uitstaande bylaes nie afgehandel is nie.

Die ooreenkoms moet nou nog deur lande bekragtig word – nog net Egipte het dit gedoen en minstens 14 bekragtigings is nodig voordat die ooreenkoms in werking tree. 'n Sperdatum van 30 Oktober is gestel om uitstaande kwessies af te handel, veral bekragtiging en tariefonderhandelinge, skryf Mangeni.

Davies het in 'n verklaring gesê tariefonderhandelings tussen die SAOG en EAC is byna afgehandel. Teen druktyd is verwag dat Madagascar en Botswana ook binnekort die TFTA-ooreenkoms sou teken.