Suid-Afrika is in ’n bose kringloop van misdaad vasgevang, sê Vercueil. “Dit raak alle mense van ons land uiters nadelig. Die vlakke van geweld en wreedheid waarmee landelike misdaad gepaardgaan, is onaanvaarbaar. Alles moet in die stryd gewerp word om misdaad te bekamp.”

Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die handhawing van wet en orde in Suid-Afrika moet dringend aandag kry en daarom word die praktiese stappe wat deur Ramaphosa in sy nuusbrief voorgestel is, verwelkom. “Ons stem saam dat die sukses van die hersiene landelike beveiligingstrategie op groter koördinasie en beter kommunikasie tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens, landbou-organisasies en gemeenskappe berus.”

Luidens ’n verklaring deur Agri SA is ’n hand van samewerking uitgereik op die onlangse vergadering tussen die georganiseerde landbou en genl. Khehla Sitole, die nasionale polisiekommissaris.

“Die onderneming is gegee dat die polisiediens misdaad in landelike gebiede dringend proaktief en reaktief sal aanpak. Sukses kan slegs behaal word waar boere, hul werknemers en die polisie saamwerk om misdaad te bekamp en om misdadigers aan die pen te laat ry. Tydens die gesprek is veral klem gelê op die beter toepassing van verskeie aspekte van die strategie. Agri SA het opnuut sy steun daaraan toegesê.”