Só beskryf mnr. Pieter du Plessis van SA Water Warriors dié groep mense wat bedank moet word vir die kos op Suid-Afrikaners se tafels, maar wat nie in pres. Cyril Ramaphosa se toesprake genoem word nie.

Du Plessis sê boere verskaf boonop nie net werk aan die mense op hul plase nie. “Van die plase af word produkte vervoer na die mark, van die market gaan dit na supermarkte, restaurante en winkels en van daar weer na my en jou koskaste. Al ooit gedink hoeveel poste in die slag sal bly as boere dit kan regkry om regstreeks aan die publiek te lewer?”

Dít is die redes waarom boere en hul werkers in droogtegeteisterde gebiede vir SA Water Warriors na aan die hart lê. “Nie net is dit droogte wat die boere al van vier tot agt jaar in sommige areas knou nie, maar ook Covid-19 het ’n massiewe uitwerking op ons boere. Droogtehulp kom nie by al die boere uit nie, en indien wel is dit so min dat dit skaars ’n verskil maak.”

Hy sê sommige boere het hul kuddes al tot met twee derdes uitgedun en klou tans aan die laaste derde vas om oorlewing. “Boere wat geskenkte blikkieskos moet deel om ’n huisgesin te voed en dan op hul laaste is, met geen idee wat hulle môre op die tafels gaan sit nie, want daar is níks. Daar is al miljarde rande oor die afgelope drie maande vir behoeftiges ingesamel en geskenk, maar niemand dink aan ons boere en hul werkers nie.”

Hy sê hulle kry daagliks hulpkrete van reg oor Suid-Afrika, maar die grootste noodkrete kom vanuit die Noord-Kaap. Hoewel sommige gedeeltes van die Noord-Kaap se winterreëngebiede die afgelope tyd vir die eerste keer in jare noemenswaardig reënval gehad het, bid die meeste gedeeltes steeds op die eerste druppels om te val.

Só lyk die wêreld tans in Van Wyksvlei, een van di
Só lyk die wêreld tans in Van Wyksvlei, een van die dorp wat SA Water Warriors op 4 Julie sal besoek.

SA Water Warriors doen ’n beroep op die publiek om betrokke te raak by organisasies wat in vennootskap met ander Suid-Afrikaners die land se boere en hul plaaswerkers help. “Ons kan nie genoeg dankie sê vir elke vrywilliger en persoon wat betrokke is by ons nie, julle is absoluut SA Water Warriors se hartklop.”

Hy vertel dat baie van die mense by wie hulle skenkings ontvang, pensioenarisse is. “Hulle sukkel self om met hul geldjie uit te kom, maar is steeds groothartig genoeg om ons boere en hul werkers te help, en dan vra hulle nog verskoning, want hulle sou graag meer wou doen. Dit is hartverskeurend!”

SA Water Warriors se volgende uitreik is op 4 Julie na Van Wyksvlei en Brandvlei. Kontak mnr. Pieter du Plessis by 076 844 6435 of besoek SA Water Warriors se Facebook-blad vir nog inligting.