Mnr. Pieter du Plessis van SA Water Warriors sê altesaam 30 voertuie, met onder meer ’n lid wat van Pretoria af gekom het om deel van die uitreikingsprojek te wees, en vier vragmotors vol voer was deel van die konvooi wat die skenkings vanaf Kaapstad na Brandvlei en Van Wyksvlei vervoer het.

Behalwe vir die vier vragmotors voer is 600 sakke mielies, kruideniersware, water en enige ander produkte wat ’n verskil in die lewe van dié dorpe se gemeenskappe kan maak, uitgedeel. Daar is ook 100 maskers op Van Wyksvlei uitgedeel.

Du Plessis sê die uitreikingsprojek was soos gewoonlik hartseer én vreugdevol. “Ons het ook taamlik skade aan sommige van die voertuie in die konvooi gehad weens die toestande van die grondpaaie waarop ons gery het. Dit het egter nie ons vrywilligers afgesit nie. Hulle staan klaar gereed vir die volgende projek.”

Hy sê hulle beplan reeds aan die volgende projek en sal volgende week  besluit waarheen skenkings volgende geneem sal word.

Só lyk die veld tans in die omgewing van Brandvlei
Só lyk die veld tans in die omgewing van Brandvlei en Van Wyksvlei. Foto: Magchel Pretorius-Albutt/SA Water Warriors Facebook-blad

Me. Louise van Eyssen en haar man, Hugo, was deel van die konvooi. Dit was die vierde keer wat hulle deel van een van SA Water Warriors se uitreikingsprojekte was. “Ons bly nog steeds verstom deur die dankbaarheid van almal aan die ontvangkant. Elke dorpie het sy eie storie, maar die nood bly dieselfde,” skryf sy op SA Water Warriors se Facebook-blad.

“Foto’s kan nie beskryf hoe dit werklik daar gaan nie. Hartseer en dankbaarheid kan nie op ’n foto vasgelê word nie. Ons werk hou nooit op nie. Ons het alle skenkings nodig. As daar enigiemand is wat belang stel om te help, moenie huiwer om ons te kontak nie.”

Besoek SA Water Warriors se Facebook-blad of kontak Pieter du Plessis by 076 844 6435 of pieterpdp@gmail.com vir nog inligting.