Hy sê die finansiële impak van die droogte en boere wat as gevolg daarvan hul plase verlaat, het tot gevolg dat 30% tot 90% van plaaswerkers in sommige gebiede hul werk verloor. “Dit is nie net boere en plaaswerkers wat die droogte se angel voel nie. Die verwoesting van dorpies is afgryslik en sommiges het spookdorpe geword. Verlate winkels op die hoofstrate vertel die storie van die impak van die droogte op Suid-Afrika.”

Hy sê toe dit verlede jaar vir ’n paar uur gedurende die eerste week van Januarie gereën het, was dit die eerste keer in hul lewe dat sommige kinders in die Noord-Kaap reën gesien het. “Selfs al het dit in sommige gebiede gereën, sal dit steeds die veld drie tot vyf jaar kos om te herstel. Intussen moet boere hul diere daagliks voer of hul lewe oppak en hoop om ’n werk elders te kry.”

Du Plessis sê die organisasie vra ondernemings, vervoermaatskappye en die publiek om te help om ’n verskil in hierdie boere se lewens te maak. “Ons benodig vervoer vir voer. Om voer van ’n skenker na ’n ontvanger te vervoer, kos ons R25 000 tot R40 000.

“Kruideniersware soos suiker, koffie, meel, mielies, kookolie en blikkieskos is altyd welkom, asook vars produkte, soos aartappels, uie, wortels en botterskorsie. Honde- en katkos, en voer, soos lusernbale, mielies en voerpille, is ook noodsaaklik.

“Ons kan slegs help as ons hierdie skenkings ontvang of finansiering kry om dit aan te koop. Al hierdie skenkings word gratis gedoen, wat bewys daar is nog mense in Suid-Afrika wat omgee. Solank daar droogte in Suid-Afrika is, sal SA Water Warriors nie ons boere in die steek laat nie.”

Vir meer inligting, kontak Du Plessis by 076 844 6435 of besoek SA Water Warriors se Facebookblad.