Mnr. Pieter du Plessis van SA Water Warriors sê hulle benodig dringend vervoer vir 100 bale voer vanaf Sannieshof na die Suid-Kaap. Hulle kort ook veevoer, kruideniersware, water en vervoer vir die skenkings. Aangesien Kersfees om die draai is, vra hulle ook skenkings om Kerspakkies vir dié families se kinders saam te stel.

“Oudtshoorn is nou al langer as agt jaar in droogte vasgevang, wat lei tot groot werkloosheid en armoede in die plaasgemeenskappe,” sê Du Plessis.

“Ons boere in droogtegeteisterde gebiede is vergete landsburgers met al die politieke woeling in Suid-Afrika. Ons moet kyk na die boere, want hulle is die begin van voedselsekerheid, werksekerheid en ekonomiese groei in Suid Afrika.”

Besoek SA Water Warriors se Facebook-blad vir nog inligting oor hoe om skenkings te maak of betrokke te raak.