“Ons is al deur verskeie buitelandse regerings en joernaliste gewaarsku dat die ANC veel meer beoog as bloot ’n onskuldige poging om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak – waarvoor artikel 25(3) reeds voorsiening maak.

“Die oneerlikheid van die ANC blyk uit sy voorneme om regsoewereiniteit te ondermyn, en daardeur die oppergesag van die reg te ondergrawe deur nou te probeer om die howe se bevoegdhede te beperk in pogings om onteiening sonder vergoeding toe te pas.

“Die fundamentele oneerlikheid blyk ook uit die wyse waarop die voorsitter van die onteieningskomitee sowel die doel as die bestek van die ondersoek na die voorgestelde wysigings verander deur ver buite die bestek van die prosedures van die parlement of die reg te beweeg om op die hele artikel 25 te konsentreer.”

De Jager sê uit samesprekings met ambassades en ander regerings is dit duidelik dat die manier hoe die ad hoc-komitee die program van openbare deelname hanteer – reeds toe die komitee eensydig besluit het om alle skriftelike voorleggings buite rekening te laat – groot agterdog gewek het.

“Skriftelike insette het nie net die meeste van die voorleggings uitgemaak nie, maar het ook meestal van beleggers, die sakegemeenskap, professionele mense en werkgewers gekom, terwyl die mondelinge voorleggings meestal afkomstig was van anonieme mense wat van iewers met busse aangery is na obskure lokale ver van stadsentrums af wat moeilik was vir sake-eienaars om te bereik.”

Hy sê dit is ook so moeilik as moontlik vir die beleggers en werkgewers gemaak om die verhore by te woon en dat diegene wat dit wel bygewoon het, dikwels die geleentheid ontneem is om hul sê te sê.

“Dr. Mathole Motshekga (voorsitter van die ad hoc-komitee) hanteer die openbare verhore dikwels asof dit ’n referendum is, terwyl sowel die ANC as die EFF busvragte vreemdelinge na die verhore aangery het wat meesal nie geweet het waaroor die byeenkomste gaan nie en wat vooraf voorgesê is wat om te sê.

“Veels te dikwels het hierdie T-hemp-bendes hulle nie beskaaf gedra nie en gegil en slagspreuke geskreeu wanneer iemand wat standpunt teen onteiening sonder vergoeding inneem, aan die woord gekom het. Die parlementariërs het nie moeite gedoen om diegene wat vir die oppergesag van die reg of die universele verklaring van menseregte praat te beskerm nie, en het deugniete toegelaat om op die wanordelike wyse op te tree wat die kenmerk van die ANC en die EFF se politieke aktiwiteit geword het.”

Verkiesing

De Jager meen die ANC gebruik die wysiging van artikel 25 om kiesers te lok aangesien dit niks anders het om vir hulle te bied nie. “Hy het feitlik alle staatsbeheerde ondernemings en diensleweringskapasiteit in die staat vernietig. Hy het die ekonomie verwoes en sy kaders het Suid-Afrika tot bankrotskap besteel en geplunder. Hy het geen beter opsie nie as om populistiese politiek te bedryf, soos grondgrype soortgelyk aan wat Zanu-PF sedert 2000 in Zimbabwe doen.

“In een opsig was Motshekga reg, toe hy aangehaal is dat hy sê die ANC en sy leiers het nie ’n monopolie oor wysheid nie en dat hulle na die mense moet luister. Hy moet ’n lessie in Zimbabwe gaan leer en na die banke, beleggers, werkgewers en sakeondernemings luister. Hy het geen wetenskaplike of morele rede om te glo dat onteiening sonder vergoeding Suid-Afrika minder gaan kos as die verwoestende koste wat dit in Zimbabwe het nie.”

Volgens De Jager het Saai briewe aan die meeste ambassades in Suid-Afrika geskryf om hulle oor die ANC se voornemens in te lig en om groter bewustheid te skep van hoe die ANC se agenda strydig is met artikel 17 van die universele verklaring van menseregte. Hul regerings se steun word gevra vir optrede teen die ANC by die Verenigde Nasies.