Die kommentaar konsentreer op die internasionale regsaspek van die voorgestelde wysiging en die gebrek aan vergoeding. Volgens Saai word die reg tot eiendom, asook die feit dat eiendom onder sekere omstandighede onteien kan word, deur die internasionale verklaring van menseregte (1948) beskerm. Hiervolgens mag onteiening slegs met sekere voorwaardes plaasvind, en een daarvan is billike en regverdige vergoeding.

Saai se versoek is dat die Suid-Afrikaanse Grondwet verbind moet bly tot die beginsels van die internasionale verklaring van menseregte en dat van niemand verwag word “om die rekening te dra van ’n nasionale verantwoordelikheid nie”. Indien voortgegaan word met die huidige voorgestelde wysiging, sal Saai ’n regsproses daarteen begin met bogenoemde beginsels as sy sentrale argument.

Die sperdatum vir die voorlegging van kommentaar oor die wysiging van die Grontwet was aanvanklik 31 Januarie. Die parlementêre ad hoc-komitee oor die wysiging van die Grondwet het egter Donderdag 30 Januarie besluit om die sperdatum tot 29 Februarie uit te stel.

Saai se bewusmakingsveldtog oor onteiening en plaasmoorde het reeds begin met ’n besoek aan die Hongaarse regering en die Wêreldforum vir Voedsel en Landbou in Berlyn waar sowat 80 lande se ministers van landbou was. Suid-Afrika se minister en adjunkminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling was nie in Berlyn nie. Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai se direksie en van die Wêreldboere-organisasie, moes daarom talle vrae oor onteiening beantwoord.

De Jager sê daar is groot skeptisisme oor hoekom dit nodig is om die Grondwet te wysig, terwyl die Motlanthe-verslag en die getuienis by die Zondo-kommissie aandui dat die grootste hindernis in grondhervorming ’n kapasiteitstekort en korrupsie in die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling is. “Ook by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos is op tientalle vergaderings wat ek bygewoon het, reguit gepraat oor staatskaping en veral die gebrek aan vervolging van mense met politieke bande wat geïmpliseer word.”

Hy meen buitelandse regerings en beleggers beskou die ANC se najaag van onteiening sonder vergoeding as ’n verlenging van ’n bestaande kultuur van staatstroping en nepotisme onder die heersende elite. “Hulle beskou Suid-Afrika as ’n beleggingsrisiko.”

Hy sê Saai is oorval met navrae uit die buiteland oor die ANC se poging om die howe te omseil en aan die uitvoerende gesag die mag te gee om vergoeding te bepaal. “Daar is min elemente van die debat wat buitelandse beleggings meer as hierdie voorstel afskrik, en dit kom op ’n tyd dat Suid-Afrika se ekonomie dit nie kan bekostig nie.”