Saai sal op 5 en 6 Augustus 2020 namens boere en plaaswerkers in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn om die regering se regulasies op die verbod op wettige tabakverkope ongrondwetlik en ongeldig te laat verklaar.

Die saak, wat aangehoor word saam met nege ander aansoekers, word gelei deur British American Tobacco South Africa (Batsa), die grootste vervaardiger van tabakprodukte in Suid-Afrika.

Rossouw sê hoewel die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita) se aansoek in die hooggeregshof in Pretoria, wat Vrydag 26 Junie met koste deur regters J.P. Malambo, J. Molefe en J. Basson van die hand gewys is, ’n invloed op die Batsa-saak sal hê, is die uitspraak nie bindend op die uitkoms van hul saak nie.

“Daar is ’n groot aantal kwessies wat ons in ons stukke geopper het, wat nie in die Fita-saak aandag gekry het nie. Dan was daar kwessies wat in die Fita-stukke geopper is, wat nie so volledig of deeglik aangevoer is soos in ons stukke nie.”

Volgens Netwerk24 oorweeg Batsa sy regsopsies nadat die saak oor die verbod op die verkoop van tabakprodukte, wat op 30 Junie aangehoor sou word, met ses weke vertraag is.